Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bevolking van renosters krimp met tot 70%

Skokkende amptelike syfers in Sanparke se jongste jaarverslag wys Suid-Afrika se renosterbevolking het die afgelope tien jaar met soveel as 70% gekrimp weens stropers.

Luidens Sanparke se jaarverslag is daar nou 268 swart- en 3 549 witrenosters in die Krugerwildtuin oor.

Verskeie bewaringsorganisasies het heftig gereageer op eergister se verklaring deur die departement van omgewingsake dat renosterstropery verlede jaar met 30% afgeneem het sonder om dié sogenaamde “afname” in konteks te stel.

Volgens Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, is daar verlede jaar 245 renosters in die wildtuin vir hul horings gestroop, teenoor die 594 in 2019. Luidens Creecy se verklaring is stropery dus besig om af te neem.

Die organisasie Africa Wild sê hy kan nie verstaan waarom die statistieke op bladsy 97 van Sanparke se jaarverslag “weggesteek” is nie.

“Wat het Sanparke en die departement om weg te steek?” vra die organisasie.

Dave Bryant, DA-woordvoerder oor omgewingsake, het gister gesê die rede vir die sogenaamde “afname” in stropery is omdat daar minder renosters in die wildtuin oor is.

“Stropers moet dus harder soek na renosters om te stroop.”

Hy sê: “Dié situasie moet dringend reggestel word.”

Volgens hom moet die “regstelling” binne-in Sanparke plaasvind.

Hy sê Sanparke gee aanhoudend voor hy het renosterstropery onder beheer, maar die waarheid oor die stand van die renosterbevolking het nou uitgekom met die publisering van die jaarverslag.

Die EMS-stigting het Creecy gister in ’n verklaring van ontkenning beskuldig en sê sy probeer “ ’n mooi prentjie voorhou terwyl renosters besig is om uit te sterf”.

Die stigting sê volgens die departement se eie statistieke was daar 10 621 witrenosters in 2011 in die wildtuin. In 2013 was daar 415 swartrenosters.

Creecy het Sanparke se personeel eergister geloof vir die feit dat hulle ondanks al die beperkings wat Covid-19 verlede jaar aan hulle gestel het, daarin kon slaag om 1 573 strooptogte in die wildtuin die hoof te bied.

Bryant sê die DA dring daarop aan dat Sanparke ’n omvattende en eerlike voorlegging aan die parlement kom doen oor Suid-Afrika se renosters wat “besig is om te verdwyn”.

Hy sê die statistieke in Sanparke se jaarverslag is “skokkend”. Volgens hom wou Creecy aanvanklik nie die statistieke bekend maak nie.

Haar verskoning was glo dat “hierdie inligting ’n risiko vir (die departement en Sanparke se) bewaringsinisiatiewe inhou”.

“Wel, nou is die statistieke in die openbare oog en skets dit ’n somber prentjie vir die toekoms van Suid-Afrika se renosters.”

Die DA doen ’n beroep op Creecy om in te gryp en saam met Sanparke “oop kaarte” te speel met die portefeuljekomitee oor omgewingsake.

Bryant sê as daar nie nou dringende optrede is nie, kan renosters binnekort uitsterf en sal die nageslag net “foto’s van die diere te sien kry”.

Volgens hom sal verteenwoordigers van Sanparke op 16 Februarie voor die komitee verskyn.

Meer oor:  Sanparke  |  Barbara Creecy  |  Renosters  |  Jaarverslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.