Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Binnelandse reën bring blydskap én skade

Die sentrale gedeelte van Suid-Afrika is ná ’n tyd van erge droogte binne drie maande in ’n groen oase omskep nadat tussen 400 tot 500 mm reën ná Kersfees hier geval het.

Die sentrale binneland het die afgelope twee weke goeie reën gekry met meer as 100 mm wat slegs die afgelope week gemeet is. Foto: Mlungisi Louw

In dele van die Suid-Vrystaat, insluitende Reddersburg, Zastron, Rouxville, Bethulie en Edenburg, is net die afgelope vyf dae tussen 60 en 100 mm reën aangeteken. Dit is benewens die 100 mm in ’n uur se tyd in Rouxville twee weke gelede wat tot erge vloede gelei het.

Ook in die ooste van die provinsie het dit goed gereën.

By Reitz in die Oos-Vrystaat is 300 mm van verlede Dinsdag tot Dinsdag gemeet.

MJ Lourens, ’n kommunikasiebeampte van Four Paws, het Dinsdagmiddag gesê dit reën al die oggend van 07:00 “kliphard” by Bethlehem in dié streek. Hier het sedert September 400 mm geval en 100 mm die afgelope week. Boere in dié distrik het feitlik geen reën in Oktober en November gehad nie.

Ook die Noord-Vrystaat het goeie reën ontvang met 94 mm reën wat in Parys gemeet is die afgelope week. In die Virginia-omgewing is 40 mm Sondag en Maandag gemeet.

In dele van Bloemfontein is 86 mm sedert verlede Woensdag aangeteken.

Riaan Schoeman van Dan Pienaar het sedert begin Januarie reeds 364 mm gemeet, teenoor 474 mm vir die hele 2018.

Sondag en Maandag het haelbuie in dele van die Noord-Kaap voorgekom.

Dalk te laat vir grane

Daar was vroeër vanjaar kommer oor die aanplanting van grane omdat die somerreënvalseisoen laat is.

Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, sê die 2,3 miljoen hektaar mielies wat die afgelope seisoen plaaslik geplant is en ’n moontlike oes van 10,5 miljoen ton mielies – soos aangedui deur die Nasionale Oesskattingskomitee – kan oplewer, dui op ’n ondergemiddelde oes.

“Omdat die reën so laat gekom het, is die grane buite hul optimale venster geplant en daar is ook minder geplant as wat produsente oorspronklik wou plant.”

Die reën wat boere van die sentrale binneland ontvang, kan wel vir laat aanplantings help.

“Maar as jy na die groter prentjie kyk, sal dié reënval maak dat daar net-net genoeg mielies vir Suid-Afrika se verbruik kan wees, of ons sal geelmielies moet invoer om tekorte aan te vul.”

Of die reën genoeg vir die plantseisoen is, kan kundiges nie met sekerheid sê nie. Foto: Mlungisi Louw

Ommeswaai bring ook skade

Die reën het ook skade gebring met 41 damme wat in die Rouxville-distrik gebreek het toe 100 mm op 23 Maart geval het.

Jacobus Stroebel, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, sê die omvang van die skade aan private eiendom beloop tussen R25 miljoen en R30 miljoen. Dit sluit die herstel van grondpaaie uit.

Die weiding hier het egter so herstel ná die baie reën dat skape wegraak in die plate rooigras waar Kersfees net stof in ’n verskroeide landskap was.

Damme wat nie gebreek het nie, is die eerste keer in meer as vyf jaar vol.

Die reën by Winburg (oor die 105 mm die afgelope week) het boere bekommerd gemaak omdat ’n stuk toerusting by die Wolwasdam nie vervang is nie.

Pieter Rossouw, ’n afgetrede boer, sê die transformator wat die krag moet verskaf om die grypdam uit Laaispruit vol te pomp, is nog nie vervang nie.

“Die dam se vlak is laag en ek sien probleme vir die winter. Al die reënwater gaan verlore.”

Gebiede waar droogte nog heers

Dele wat steeds onder die droogte gebuk gaan, is in die Noord-Kaap en Noordwes.

Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê wes van Vryburg het “hopeloos” te min reën geval.

“ ’n Mens kan amper ’n lyn trek wes van Vryburg tot by Postmasburg, Prieska en dele by Carnarvon.

“Dis die dele waar dit ’n bietjie gereën het, maar dit is nie genoeg om die droogte te breek nie.”

Wikus Bekker, ’n boer van Edenburg in die Suid-Vrystaat, het dié foto op sy plaas Geluksdam geneem nadat 76 mm binne net meer as ’n dag gemeet is. Foto: Wikus Bekker

Nóg reën voorspel

Kevin Ingram, ’n voorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê nóg goeie reën word vir Woensdag en Donderdag vir die sentrale binneland voorspel.

“Die reënval sal merendeels oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes voorkom.”

Vir Woensdag voorspel hy ’n 60%-kans op reën in die Vrystaat, 60%-kans vir Noordwes en ’n 30%-kans vir die westelike deel van die Vrystaat.

Geen reën word vir die naweek voorspel nie, behalwe vir die verre oostelike deel van die Vrystaat.

Dit lyk wel volgens Ingram of dit Sondag sal reën in die oostelike deel van die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes.

Meer oor:  Boere  |  Landbou  |  Graan  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.