Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Blinde renostertjie met modderbad getroos

’n Dierbare, pasgebore en tydelik blinde renosterkalfie het ’n tweede kans op die lewe gekry – én ’n modderbad daarby.

Klein Molly is op 17 Januarie op ’n wildplaas in die Noord-Kaap gebore en ’n dag later alleen in die veld gekry.

Haar eienaar het haar na die Wild Hearts Wildlife-rehabilitasiesentrum gebring om versorg te word totdat sy sterk genoeg sou wees om weer na die wildplaas terug te keer.

Molly die blinde renostertjie en Isabel Snyman (5) kerjakker tog te lekker in die modder by die Wild Hearts Wildlife-rehabilitasiesentrum.

Ansabet Snyman, eienaar van die sentrum, sê toe hulle met Molly se aankoms die blinddoek van die twee dae oue kalfie se oë afhaal, het bloed by haar oë uitgeloop. Die kalfies word gewoonlik geblinddoek wanneer hulle vervoer word om hulle rustig te hou.

Snyman sê hulle vermoed dit kon die rede wees waarom haar ma haar verwerp het.

Snyman sê die eerste paar dae ná Molly se aankoms het dit gebed, liefde en hoop gekos dat sy die paal sou haal.

“Sy was blind en ons het regtig nie geweet of dit permanent of net tydelik sou wees nie. Ek het die medisyne wat ek by die veearts gekry het, getrou toegedien in die hoop op ’n goeie uitkoms vir haar.”

’n Oogspesialis, dr. Jaco Maartens van Kimberley, het Molly besoek en bevind sy kon wel sien. Dit was egter moeilik om te bepaal hoeveel sy kon sien. Maartens besoek Molly nou een keer per week.

Snyman sê hulle sal eers kan bepaal hoeveel Molly werklik kan sien wanneer sy gereed is om saam met haar renostermaats, Faf, Annie en Anton, te kan speel.

Molly word vir eers in ’n aangrensende kamp afgesonder om enige stampe te verhoed.

Molly se oë word deur Ansabet Snyman en dr. Jaco Maartens, 'n oogspesialis van Kimberley, ondersoek.

Snyman sê Molly het ’n uitbundige geaardheid. Met haar aankoms was sy rustig omdat sy nie kon sien nie, maar namate sy haar sig herwin het, het sy al hoe meer verspot geraak.

“Sy is nou so verspot dat sy heel uit haar nate uit is,” kraai Snyman van die lag.

Dié naweek het Molly ook haar eerste modderbad gehad wat ’n sirkus van pret geword het. Snyman se kinders, Isabel (5) en Herman (3), wat gereeld ’n hand bysit met die versorging van die diere by die sentrum, wou oudergewoonte weer help.

Isabel wou graag by Molly inklim en Snyman het vir haar gesê om Molly besig te hou aangesien sy dalk sou dink dit is tyd vir haar bottel. Snyman het toe die ander renostertjies gevoer.

Dit het onlangs in die distrik gereën en daar is oral lekker modderplasse op die plaas. Toe sy weer sien, het klein Herman ’n pienk emmertjie modder vir Isabel aangegee. Die een emmertjie het vele emmertjies geword en die kaskenades al hoe meer.

Molly was later pens en pootjies besmeer en Isabel het ook nie veel beter gelyk nie.

Dié spelery het ’n groot gegiggel en ’n gelag in Molly se kamp afgegee.

Sy sê Isabel het ook Molly se kop baie versigtig met modder gesmeer sodat dit nie in haar oë beland nie.

Ná die modderbad was Molly so uitbundig dat sy op en af en in draaie tussen haar twee stalle gehardloop het.

Dit is in dié stadium nie seker wat Molly se toekoms inhou nie en dit sal afhang van hoe haar sig verbeter. Molly sal deurentyd tot op 18 maande, wanneer die renosterkalwers gewoonlik gespeen word, gemonitor word.

Afhangend van hoe haar toestand verbeter, sal dan besluit word of sy saam met ’n gewone groep renosters vrygelaat sal word en of sy in ’n kleiner kamp slegs saam met koeie aangehou sal word.

* Mense kan die Wild Hearts Wildlife-rehabilitasiesentrum se blad besoek om Molly se kaskenades te volg.

Meer oor:  Noord-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.