Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Blogger vaar uit teen kritici oor leeuwelpie
Qaanita Orrie, skoonheidsblogger en toonaangewer op sosiale media. Foto: Facebook

Die skoonheidsblogger en sosialemedia-meningsvormer Qaanita Orrie het op haar Instagram-rekening uitgevaar teen diegene wat haar gekritiseer het nadat haar kêrel, Sulaiman Effendi, glo met ’n leeuwelpie in Athlone gevang is.

Effendi is die seun van Najwa Petersen, wat 28 jaar tronkstraf uitdien weens die moord op haar man, die musieklegende Taliep Petersen.

Effendi en twee medebeskuldigdes, Rayaan Simons en Shurud Jacobs, het Woensdag in die landdroshof in Wynberg, buite Kaapstad, verskyn. Hulle staan saam op sowat 14 aanklagte tereg wat met die beskerming van wilde diere verband hou. Volgens die staat het die polisie op die leeuwelpie afgekom toe Effendi se huis deursoek is.

Orrie het haar Instagram-rekening verlede week verwyder nadat ’n foto van haar kêrel, wat die welpie vashou, wyd op sosiale media versprei is.

Orrie beskryf haarself op haar Twitter-profiel as ’n “dieremens” en vra mense om saam te staan teen wreedheid teenoor diere. Sy is erg gekritiseer oor Effendi se betrokkenheid by die leeuwelpiesage.

Orrie het kort daarna haar Instagram-rekening, @qaanita_xx, met meer as 77 000 volgelinge, gesluit.
Qaanita Orrie, skoonheidsblogger en toonaangewer op sosiale media. Foto: Facebook

Orrie het kort daarna haar Instagram-rekening, @qaanita_xx, met meer as 77 000 volgelinge, gesluit. Dit is intussen weer geaktiveer en daar is steeds foto’s wat sy vroeër van hulle saam geplaas het.

In haar verduideliking sê Orrie, wat onlangs in Mauritius was, op Instagram dat sy onder die druk van sosiale media geknak het en gevolglik ’n verposing moes vat toe sy na Suid-Afrika terugkeer.

“Ek is medies aangeraai om vir ’n tydjie my sosiale media ‘af te skakel’, terwyl ek my energie op selfgenesing toespits en om beter te voel.”

Toe sy van Mauritius af terugkeer het Orrie die kritiek gesien wat op sosiale media oor haar kêrel uitgebreek het.

“Ek moet dit baie duidelik maak dat ek nie die onwettige besit of smokkel van wilde diere steun of verskoon nie. Ek is eerlikwaar platgeslaan oor wat gebeur het en seergemaak omdat ek deel gemaak word van alles,” skryf sy op haar Instagram Story.

“Ek is en sal vir ewig ’n passievolle diereliefhebber wees. Tans probeer ek my energie bymekaarskraap om die probleem aan te pak, veral omdat dit so naby aan die huis is, iets waarin ek geen aandeel gehad het nie.”

In ’n ander inskrywing takel Orrie van haar volgelinge wat haar uitgejou het.

Ek is moedeloos oor die seer en afskuwelike woorde van sommige van julle.
Qaanita Orrie, skoonheidsblogger en toonaangewer op sosiale media. Foto: Facebook

“Ek is moedeloos oor die seer en afskuwelike woorde van sommige van julle. Ek kan jou nie om verskoning vra as my waarheid nie goed genoeg is nie, of die vermaak gee wat julle soek nie. Ek is net skuldig aan een ding en dit is dat ek nie vroeër gepraat het nie.

“Maar ek kan nie en sal nie beoordeel word as iemand anders verkeerd gedoen het nie, veral as ek niks daarmee te doen gehad het nie.”

Sy word gedwing om op haatspraak te reageer, sê sy.

“As jy hier is om net dit te doen, vra ek jou openlik om my platform te verlaat . . . Vir diegene wat my ondersteun het, is ek baie dankbaar.”

Van Orrie se volgelinge het sarkastiese aanmerkings oor haar status van diereliefhebber gemaak en geskryf dat daar blykbaar niks mee verkeerd is om leeus by jou huis gevange te hou nie.

En omdat sy getwiet het sy is bly China het ’n verbod op hondevleis geplaas, het sommige mense die ironie uitgewys en geskryf: “Maar dis oukei om ’n leeuwelpie soos ’n hond in ’n geslote ruimte aan te hou?”

Effendi en sy medebeskuldigdes is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Intussen soek lede van die polisie se veediefstaleenheid steeds na ’n tweede leeuwelpie wat glo iewers op die Kaapse Vlakte aangehou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.