Grondeienaars skop vas teen ’n mynhuis se planne om steenkool op die grens van die Blouberg-natuurreservaat in Limpopo en in geproklameerde bewaringsgebiede te myn.
Singo Consulting, sogenaamde omgewingskonsultante, sê in hul agtergrondverslag die maatskappy Raycom Resources wil steenkool en “steenkool-verwante minerale” op verskeie plase in die omgewing van die Blouberg-natuurreservaat myn.
Johan van Wyk, bestuurder van die Blouberg-natuurreservaat, het gesê die plase Fraaifontein en Auf den Haard, wat in Raycom Resources se visier is, grens direk aan Blouberg.
Dié twee plase, asook Ganspan, is jare gelede by die Blouberg-natuurreservaat ingelyf en dien as ’n buffergebied. Die plase is in die register van die nasionale bewaringsgebiede aangeteken.
Daar mag volgens Van Wyk dus nie in sulke geproklameerde bewaringsgebiede enige mynbou-aktiwiteite plaasvind nie.
“Hoewel daar tans kommersiële landbou op dié plase beoefen word, is hulle nog nooit as bewaarde gebiede gederegistreer nie.”
Van Wyk het in ’n brief aan Singo Consulting geskryf geen natuurreservaat funksioneer as ’n eiland nie en die ekostelsel in so ’n gebied is afhanklik van die gebied wat hom omring en aan hom grens.
Die Blouberg-natuurreservaat vorm die kern van die Vhembe-biosfeer en huisves die grootste kolonie kransaasvoëls in die land. Onlangse opnames het getoon daar is sowat 1 200 broeipare in die reservaat.
Die gebied waar Raycom Resources tussen die Soutpansberg en Blouberg steenkool wil soek, is dié voëls se grootste voedingsgebied. Enige negatiewe aktiwiteite in hierdie gebied sal dié bedreigde voëls se broeipatrone ontwrig, het Van Wyk gesê.
Hoewel daar tans kommersiële landbou op dié plase beoefen word, is hulle nog nooit as bewaarde gebiede gederegistreer nie.
Hy het beklemtoon dat steenkoolmynbedrywighede toerisme in die Vhembe-biosfeer sal vernietig.
Erika Helm, landbouverteenwoordiger van die Bobrakboere-vereniging, het gister gesê dié gebied wat deur Raycom geteiken word, is ’n baie belangrike landbougebied. Die boere hier is afhanklik van die water uit die Brakrivier. As steenkool hier gekry en ontgin word, sal dit die gebied se waterbron vernietig.
Die Brakrivier is ook ’n baie belangrike habitat vir verskeie voëlspesies.
Volgens Helm is die Limpoporivierkom ’n dorre savanna-substreek en is die verdamping van water in dié deel van die provinsie “baie meer as die hoeveelheid jaarlikse reënval”.
“ ’n Watertekort is geïdentifiseer as die grootste beperkende faktor (vir ontwikkeling) in die gebied. Die oppervlakwaterbronne is ook as uiters sensitief geklassifiseer.”
Volgens Helm weier die grondeienaars om aan enige verteenwoordigers van Singo toegang tot hul grond te gee voordat hulle seker is dié konsultante is lede van die vereniging van omgewingsassesseringspraktisyns van Suid-Afrika.
Helm het gesê sy het die webblad van die vereniging bestudeer en kon nie die konsultasiemaatskappy of die name van die konsultante opspoor nie. Sy het ook ’n navraag aan die vereniging gerig, wat ontvangs van die e-pos erken het.
Masindi Nefale, wat namens Singo optree, het gesê sy is ’n opgeleide omgewingskonsultant.
Volgens haar kan belanghebbendes steeds kommentaar instuur, al het sekere spertye al verstryk.
’n Watertekort is geïdentifiseer as die grootste beperkende faktor (vir ontwikkeling) in die gebied. Die oppervlakwaterbronne is ook as uiters sensitief geklassifiseer.