Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bly op uitkyk vir seeskilpadjies op Kaapse strande

Weens klimaatsverandering sal meer seeskilpadjies waarskynlik voortaan op Wes-Kaapse strande uitspoel.

Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad het Vrydag die publiek gevra om op die uitkyk vir dié seeskilpadjies te wees en die akwarium te kontak as van die skilpadjies gevind word.

Van die seeskilpadjies wat in die sorg van die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad is. Foto: Verskaf

Die akwarium het tans 29 seeskilpadjies in sy sorg nadat 35 reeds ingeneem is. Sommige het egter gevrek omdat hulle te swak was.

Renée Leeuwner, woordvoerder van die Twee Oseane-akwarium, sê die skilpadjies het by strande tussen Muizenberg en Plettenbergbaai uitgespoel.

Sy sê dit gaan goed met die res van die skilpadjies. “Maar soos met enige ander rehabilitasieproses moet ons hulle fyn dophou.”

Die skilpadjies wat jaarliks gered word, bly meestal tot Desember by die akwarium, maar sommige kan ook heelwat langer versorg word.

Leeuwner sê mense wat skilpadjies op strande vind, moet hulle nie weer terug in die water plaas nie.

“Kontak eerder jou naaste kontakpunt soos die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI). Plaas die skilpad in ’n droë houer met luggate op ’n sagte handdoek. Hou die skilpad uit die son en wind en neem dit sou gou moontlik na die naaste akwarium-kontakpunt,” sê sy.

Ons vra die publiek en diegene wat van die strande om Kaapstad gebruik maak om voort te gaan om hulle te soek.
Renée Leeuwner, woordvoerder van die Twee Oseane-akwarium

Dit is presies wat Ulla du Toit en Meme Swanepoel onlangs gedoen het.

Hulle het ’n kennisgewing van die Overstrand-munisipaliteit gesien dat seeskilpadjies nou op strande uitspoel en toe op Grottostrand by Hermanus gaan stap om te kyk of hulle van die seeskilpadjies gewaar.

Hulle het afgekom op twee seeskilpadjies wat sowat 20 m van die water gelê het.

Een van die twee seeskilpadjies wat Ulla du Toit op Grottostrand in Hermanus gevind het. Foto: Ulla du Toit

“Ek het hulle tussen my hande vasgehou om hulle warm te maak. Die een het begin kriewel in my hand en dit was die ongelooflikste gevoel,” sê Du Toit.

Hulle het die skilpadjies na die Suid-Afrikaanse Haaibewaringsgebied (SASC) in Hermanus geneem, waar Björn von Büring, ’n mariene bioloog, die skilpadjies versorg.

Leeuwner bedank elkeen wat tot dusver gehelp het om die seeskilpadjies na veiligheid te neem.

“Ons vra die publiek en diegene wat van die strande om Kaapstad gebruik maak om voort te gaan om hulle te soek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.