Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bly weg van ‘besmette’ bome, maan munisipaliteit
Letsels aan ’n besmette boom in George waar die kewer deur die bas geboor het. Foto: Verskaf

Mense in George in die Suid-Kaap word gewaarsku om weg te bly van bome wat lyk asof hulle besig is om te vrek weens die moontlike besmetting deur ’n verwoestende indringer-boorkewer.

Die uitslag van toetse om te bepaal of die kewer (Euwallacea fornicatus) en ’n verwante swam vir die besmetting van bome verantwoordelik is, word nog ingewag, sê die George-munisipaliteit in ’n verklaring.

Die munisipaliteit waarsku mense om veral versigtig te wees wanneer die wind waai of as die weer sleg is omdat besmette bome se takke maklik kan breek en dit dalk op mense of motors kan val. Mense moet bome met gebreekte takke (’n teken dat die boom besig is om te vrek) vermy as hulle stap, hul motor parkeer of piekniek hou. Kinders moet ook nie in die bome klim of daaronder speel nie.

Oor ’n moontlike entstof sê die munisipaliteit by navraag dat dit nog nie beproef is nie en dat bome vinniger vrek as wat die entstof kan werk.

In George is die bome wat die grootste risiko loop om besmet te raak, esdoring- en eikebome. Inheemse bome kan ook besmet raak. In Meadestraat in die sentrale sakekern het die swam vermoedelik die doodgaan van heelwat ouer bome bespoedig.

Die munisipaliteit het begin ondersoek instel oor waar die kewer en die verwante swam moontlik kan voorkom nadat ’n wetenskaplike verslag in Maart in die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bosbou (SAIF) se nuusbrief verskyn het.

Daar word aanbeveel dat bome wat aan die vrek is op grond in privaat besit afgekap, verwyder en die plantmateriaal verbrand word.

Nadat tekens van die kewer en ’n verwante fungus in bome in George opgemerk is, is prof. Wilhelm de Beer van die Universiteit van Pretoria (UP) geraadpleeg. Hy het George besoek. Die uitslag van toetse word ingewag, maar De Beer se waarnemings dui op die aanwesigheid van die kewer. Die munisipaliteit werk nou saam met De Beer en die Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) van die UP.

Volgens die munisipaliteit vrek bome tans vinniger as waarvoor beplan of begroot is. Die munisipaliteit snoei voortdurend dooie takke van bome af, maar sal kontrakteurs van buite moet kry om die taak behoorlik aan te pak. Omdat die afsaag en snoei van groot bome ’n gespesialiseerde en duur taak is, sal nog geld daarvoor gevind moet word. Tans word daarop gefokus om takke van bome op die hoofroetes in die dorp te snoei. Indien nodig sal die munisipaliteit dit oorweeg om dele van paaie en sypaadjies tydelik te sluit.

Geïnfekteerde boomstompe, takke en plantmateriaal kan na die munisipale stortingsterrein op die R102 (lughawepad) geneem word. Daar word aanbeveel dat bome wat aan die vrek is op grond in privaat besit afgekap, verwyder en die plantmateriaal verbrand word.

Besmetting van bome

Volgens die George-munisipaliteit is die kewer en sy swam verlede jaar die eerste keer in die KwaZulu-Natal Botaniese Tuin gevind. Die kewer van 2 mm lank kom van Suidoos-Asië en is ’n indringer in Kalifornië, Israel en Suid-Afrika.

Die kewer boor deur die boom se bas en dra die swam oor na die lewende hout. Dit kan tot besmetting lei wat veroorsaak dat bome vrek.

Tekens van besmetting is klein, opgehewe blou en swart letsels met ’n gaatjie daarin.

Meer oor:  George
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.