Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bly weg van walvis se karkas, sê kenner

’n Mariene bioloog waarsku strandgangers om weg te bly van die karkas van ’n bultrugwalvis wat op die strand naby Port Elizabeth uitgespoel het.

Die volwasse walvisbul het die afgelope naweek op ’n verlate strand tussen Schoenmakerskop en Sardiniabaai uitgespoel.

Talle nuuskieriges het reeds die kolossale karkas langs die afgeleë strand opgesoek, maar dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog verbonde aan die Bayworld-oseanarium, waarsku mense om nie aan die karkas te raak óf om monsters van die karkas te neem nie.

“Die oorsaak van die walvis se dood is onbekend. Dit is ’n groot karkas met baie vleis wat nou ontbind en wat baie bakterieë bevat.

“Mense is welkom om die karkas te besoek, maar hulle word aangeraai om nie op die karkas te klim of daaraan te raak nie en eerder ’n ent weg te staan.”

Hy waarsku ook teen die neem van monsters deur stukke van die walvis af te sny.

“Enige persoon wat ’n monster van die walvis wil vat, moet ’n permit van die departement van omgewingsake bekom, anders sal dit onwettig wees,” sê Hofmeyr.

’n Bultrugwalvis se karkas tussen Schoenmakerskop en Sardiniabaai naby Port Elizabeth lok talle nuuskieriges. Foto: Melissa Riordan

Hy sal self later vandeesweek van sy permit gebruik maak om monsters van die walviskarkas te neem wat hy vir sy navorsingsprojekte sal gebruik.

Die oorsaak van die walvis se dood sal nie vasgestel kan word nie, meen Hofmeyr, aangesien die karkas reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding is.

Hy sê hoewel die walvis se dood ’n jammerte is, spoel minstens een of twee walvisse jaarliks aan dié kus uit wanneer hulle verby die stad op hul noordelike migrasieroete swem.

Lloyd Edwards, mariene kenner en eienaar van Raggy Charters in Port Elizabeth, bevestig ook dat bultrugwalvisse verby die stad op hul migrasieroete swem, maar hy meen die walvisse behoort lankal nie meer in die omgewing te wees nie.

“Dit is eintlik nou meer die noordkapperwalvis se tyd in die Baai. Die noordkapper kom gewoonlik ’n tyd ná die bultrugwalvisse in die Baai kuier.”

Hy het egter nie onlangs enige verdere bultrugwalvisse in die Baai gesien nie en meen hy die walvis wat uitgespoel het, blyk ’n geïsoleerde voorval te wees.

“Maar ’n stukkie goeie nuus is dat ons vanjaar die meeste noordkapperwalvisse in die Baai het wat ons die afgelope vyf jaar gehad het.

“Moeder Natuur is onvoorspelbaar, ons kan dit nie verstaan nie, ons moet dit net bewaar,” sê Edwards.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Walvis  |  Kenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.