Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bokkie met 3 pote ná jaar terug in haar trop

Die klein springbokkie wat kort ná haar geboorte ’n poot verloor het, is ná ’n jaar terug in die veld en deel van ’n springboktroppie op Leilani Basson-hulle se hoewe naby Deneysville in die Vrystaat.

Soms kom sy egter nog huis toe waar haar mense vir haar ’n skelm lekkerny gee of om sommer net saam met Sabria, Basson se vyfjarige dogtertjie, in die veld te stap.

’n Sebra het haar een agterpoot in Oktober 2017 afgeskop enkele dae nadat sy gebore is. Omdat daar geen teken van die ma was nie, moes die Basson-gesin ingryp.

Die probleem was dat hulle eintlik in Melville, Johannesburg, woon en net naweke na die hoewe gaan.

Verwese en seer lê Bokkie-Beer, skaars ’n paar dae oud, nadat ’n sebra in Oktober 2017 haar poot afgeskop het.Foto: Verskaf

Bokkie-Beer was egter so klein en tingerig dat sy saam stad toe getrek en ’n Melville-meisie geword het.

Die vermorselde poot is geamputeer en elke paar uur was die bottel met die spesiale melkmengsel vir haar gereed.

Basson het geweet as haar ooilammetjie die trauma oorleef, sou sy eendag moet teruggaan veld toe.

“Niemand het gedink sy gaan oorleef nie. Sy was te klein en die trauma groot. En hoe sou sy in die veld hardloop en spring?

“Maar sy het oorleef. Ons het later menings oor ’n moontlike prostese ingewin, maar dit sou nie in die veld werk nie.

Sabria Basson (toe 4) gee ’n bietjie liefde, terwyl ’n beseerde Bokkie-Beer met haar verbinde poot net kan hoop op oorlewing.Foto: Verskaf

Bokkie-Beer het egter geleer om ondanks die afpoot oor die weg te kom.

“Dit is ongelooflik hoe die tipiese wildedier-eienskappe deurgekom het. Sy het geleer om te balanseer en kan nou selfs pronk!” spog Basson.

Die Melville-erf het te klein geraak en hulle het die ooitjie verlede jaar in die herfs met ’n swaar hart na die hoewe teruggeneem.

Ook daar was risiko-faktore: Sy was ’n buitestander in die trop en die koue winter het voorgelê.

Bokkie-Beer kort nadat die poot geamputeer moes word.Foto: Verskaf

Refuoe Stephen Makhalemele, wat op die hoewe vir Basson-hulle werk, moes help dat Bokkie-Beer oorleef.

“Ons het haar en haar dwergbokkie-maat in die omheinde deel by die huis gehou. Sy en die ander springbokke kon mekaar dus ruik, sien en interaksie hê.

“Saans het sy ewe slim na die buitekamer gestap waar sy in haar duvet en komberse toegevou is. Sy het ook steeds twee keer per dag bottel gekry om te sorg dat sy al die voedingstowwe inkry en immuniteit opbou,” sê Basson.

Bokkie-Beer het nou saam met ander springbokke in die veld begin leef, maar soms kom sy nog vir ’n lekkerny of liefie na Sabria Basson.Foto: Verskaf

Sy was elke dag bang dat die ooitjie nie die winter gaan oorleef nie. En dan kry sy ’n foto of video van Makhalemele wat wys hoe goed dit met die lammetjie gaan.

In die lente van 2018 is die hekke na die groot veld oopgemaak en Bokkie-Beer is die wye wildernis in.

Sy het saam met die ander springbokke in die trop begin wei en slaap asof dit tweede natuur is.

“Sy het oorleef in die veld,” sê Basson trots, maar effe hartseer soos ’n ma wie se laatlam uit die huis is.

Bokkie-Beer maak reg om te pronk terwyl sy saam met Sabria Basson in die veld speel.Foto: Verskaf
Die twee “sussies”, Sabria Basson (5) en Bokkie-Beer, speel saam in die veld ’n jaar nadat die springbokkie se poot geamputeer moes word.Foto: Verskaf
Bokkie-Beer wys hoe goed ’n driepoot-springbok deur die veld huppel Foto: Verskaf
Meer oor:  Vrystaat  |  Deneysville  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.