Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bolhuis is briesend oor kritiek

Die private speurder en flamink-redder Mike Bolhuis het een van die vaders van die kleinflaminkkolonie buite Kimberley van sy WhatsApp-groepie afgeskop ná ’n bekgeveg. Bolhuis sê hy het nou genoeg kritiek gehoor van Mark Anderson, uitvoerende hoof van BirdLife SA en een van die stigterslede van die Kimberley-flaminkkolonie.

Mike Bolhuis sê die ontruiming was die regte ding om te doen.

Die eiland vir kleinflaminke is in 2006 spesifiek as ’n broeiplek vir dié voëls gebou. Anderson, as ’n gerekende ornitoloog, Birdlife SA, Save the Flamingo, Ekapa Mining, die Noord-Kaapse regering en die Booth-familie was verantwoordelik hiervoor.

Dit is een van net vier broeiplekke ter wêreld vir dié voëls.

Bolhuis het twee weke gelede ’n grootskaalse reddingspoging van stapel gestuur om sowat 2 000 kleinflaminkkuikens “van ’n gewisse dood te red”.

Die dam het opgedroog weens die droogte en infrastruktuurprobleme.

Kamfersdam ten tyde van die flamink-kuikens se ontruiming. Foto: Verskaf

Die kuikens is onder meer met ’n private straler na Pretoria gevlieg, waar tientalle vrywilligers hulle op Bolhuis se kleinhoewe buite Pretoria versorg het. Sommige is nou onder meer by Montecasino in Johannesburg en die uShaka Marine World in Durban.

Bolhuis is ’n liefhebber van besonderse voëls en het meer as 100 grootflaminke en tien kleinflaminke.

Anderson het die afgelope week gesê hy waardeer die geweldig positiewe reaksie van die publiek, maar meen die “ingryping” was voortydig en het moontlik groter skade aangerig.

Bolhuis het gister teenoor Rapport teruggekap: “Ek is die enigste een wat die balls gehad het om iets te doen.”

Noudat hy vir Anderson van die Whats­App-groep vir vrywilligers verwyder het, sê hy daar is weer vrede.

Mark Anderson: Hy sê die ontruiming was dalk voortydig.

“Hierdie is net ’n verskil in opinies. Ons moes iets doen. Waar was hierdie kritici toe?”

Anderson sê hulle monitor al die afgelope twee weke die situasie by die Kamfersdam en alles is onder beheer – behalwe vir verdere menslike inmenging.

“Gisteraand het my vrou mense met flitse gekry in die flaminke se broei-area. Hulle wou eiers verwyder om te toets of dit nog gesond is,” sê Anderson.

“Dit het verlede naweek redelik in die omgewing gereën, so die kolonie is weer omring met water en die broeitydperk gaan weer soos normaal voort. Nou kom mense met flitse in die donker en steur die broeiende voëls.”

Hy sê die kleinflaminke broei steeds. Dit is ’n sensitiewe tyd vir die kolonie en dit is te verwagte dat daar vrektes sal wees. Sy vrees is dat die duisende kuikens wat verwyder is nou ’n groter kans het om te vrek as wat hulle sou gehad het as die mens net teruggestaan het.

Die kuikens is nou oor die land versprei en word deur verskillende vrywilligers versorg. Anderson vrees dat kuikens uit goedbedoelde onkunde kan vrek.

“Die kuikens mag byvoorbeeld glad nie die eerste 24 uur gevoer word nie. In hierdie tyd moet hulle die eiersak verteer. Sou mens inmeng en hulle iets anders voer, kan hulle doodgaan. Ek vermoed heelwat van hierdie kuikens het dalk reeds só gevrek.”

By navraag het Bolhuis gesê hy kan nie nou al sê hoeveel van die kuikens gevrek het nie. Dit sal in sy verslag wees wat oor twee weke uitgereik word.

“Elke karkassie word deur experts ondersoek om die oorsaak van die dood te bepaal.”

Hy het ook uitgevaar oor Anderson se “ommeswaai” en ’n stemnota van Anderson aan Rapport verskaf waarin dié hom aanvanklik bedank en geprys het vir sy reddingspoging.

Anderson sê dít was toe hy nog nie besef het wat die omvang van Bolhuis se reddingsplanne was nie en nog nie heeltemal op die hoogte was van die situasie by die dam nie.

BirdLife SA het toe dadelik met monitering begin en besef die ingryping was “voortydig”.

“Ek weet almal betrokke het die ontruiming met die beste bedoelings aangepak. Ek wil ook nie te krities wees nie, maar soms moet mens net eers terugstaan en die natuur sy gang laat gaan.

“Vir diereliefhebbers gaan dit oor die voëltjie wat hulle voor hulle sien. Vir ons gaan dit oor die voortbestaan van ’n spesie,” sê Anderson.

Anderson se ekoloog-vrou, Tania, wat die laaste twee weke permanent daar waak, het gister aan Rapport gesê daar was nie ’n enkele vrekte sedert die massa-ontruiming nie.

“Dit het gisteraand so 4 mm gereën by die dam. Dit, saam met die 45 mm van verlede naweek het die watervlak laat styg. Die ouers sit nou stewig op hul neste en broei en die jonger voëls baljaar heerlik in die nuwe water om die kolonie.”

Meer oor:  Mark Anderson  |  Mike Bolhuis  |  Flaminke  |  Birdlife Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.