Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bome loop óók onder stropers deur in Krugerwildtuin
Navashni Govender, senior bestuurder van die wildtuin se eenheid vir bewaring. Foto: Isabel Venter

Mense dink meestal aan die bekamping van renoster- en olifantstropery as daar oor bewaring in die Krugerwildtuin gepraat word – maar besoekers besef nie altyd dat plante en bome hier ook dikwels onder stropers deurloop nie.

Veral die peperbasboom (Warburgia salutaris) is al so gestroop dat die enigste bome wat nog wild voorkom, in die Punda Maria-gebied van die wildtuin gevind kan word.

Dit is grootliks weens die medisinale waarde wat deur sangomas aan dié hoogs bedreigde boom gekoppel word. Tradisionele genesers glo die boom se bas, blare en wortels kan vir ’n verskeidenheid van kwale help.

Blare van die peperbasboom wat gewild onder tradisionele genesers is. Foto: Isabel Venter

“Wat hulle nie besef nie is as jy al die bas van ’n boom afstroop, dit sal vrek. En so het die peperbas ’n kritiek bedreigde spesie geword,” sê Navashni Govender, senior bestuurder van die wildtuin se eenheid vir bewaring.

Dit het haar eenheid nagenoeg ’n dekade geneem om ’n program op die been te bring om die peperbasboom van algehele uitwissing te red.

In die Skukuza-kamp se kwekery staan daar nou honderde jong peperbasboompies wat spesiaal vir plaaslike tradisionele genesers gekweek word.

“Ons het al meer as 30 000 van hierdie bome geskenk,” sê Govender.

Daar is agtergekom dat die blare net so goed soos die bas werk, en die projek het so gegroei dat bome nou al aan nagenoeg 200 tradisionele genesers verskaf word.

Plaaslike gemeenskappe is ook betrek en word opgelei hoe om die jong boompies te plant en te versorg.

Roedolf Niewenhuis van Cropwatch Africa werk saam met die wildtuin se bewaringseenheid om die indringerboorkewer uit te roei. Foto: Isabel Venter

“Die projek het ook gehelp om bande met die gemeenskappe te smee sodat ons deurentyd met hulle in gesprek is oor die belangrikheid van bewaring,” sê Govender.

Bewaring om mikroskaal

Sedert verlede jaar moes daar haastig plan gemaak word om nie net die peperbas nie, maar ook die res van die wildtuin se bome te beskerm.

Dié keer teen ’n piepklein kewertjie bekend as die indringerboorkewer, oftewel die polyphagous shot hole borer.

“Dit is die enigste geval waar ons kan sê geen data aangemeld, is ’n goeie resultaat,” sê Govender.

Talle lokvalle is oor die wildtuin heen gestel om van die boorkewers te vang om te sien waar dit voorkom.

Dié geniepsige kewer, wat van Asië kom, kan in ’n relatiewe kort tyd onomkeerbare skade aan bome aanrig. Dit het reeds duisende bome op ander plekke in die land laat vrek. Metrogebiede soos Johannesburg en Durban, asook plekke soos Pietermaritzburg, George en Knysna, het reeds duisende bome verloor.

Dit is hoe monsters geneem word indien daar enige insekte in die wildtuin se lokvalle vir die indringerboorkewer gevind word. Foto: Isabel Venter

Die kewers dra ’n swam wat die vaatweefsel van die boom aanval.

Roedolf Nieuwenhuis van Cropwatch Africa werk met die wildtuin se moniteringspan in dié verband saam.

Buiten vir lokvalle wat gestel word, word daar ook van spesiale “navorsers” uit die gemeenskap gebruik gemaak. Hulle word saam met die park se veldwagters opgelei om op die uitkyk vir tekens van die kewer te wees. Data oor waar die kewers voorkom, word met ’n spesifieke selfoon-app gestoor vir verdere ondersoek en navorsing.

Bitter min navorsing oor die kewer se bewegings en gedrag is nog in Suid-Afrika gedoen.

Daar word dus ’n versoek aan besoekers aan die wildtuin gerig om net hout te koop in die ruskamp waar hulle tuisgaan.

“Brand jou hout waar jy dit gekoop het. Moenie hout van elders na die kamp bring, of dit uitneem nie. Dit verhoog die wildtuin se risiko vir infeksie,” sê Govender.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Olifante  |  Renosters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.