Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Boomman: Metro is apaties oor boorkewers

Hoewel die indringer-boorkewer al hoe minder in Johannesburg se bome waargeneem word, is sekere belangegroepe teleurgesteld oor die metroraad se hantering van die probleem.

“Die nuwe waarnemings (van die kewer) het in die laaste kwartaal aansienlik afgeneem,” sê Nonhlanhla Sifumba, Johannesburgse burgemeester- skomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling, in ’n mediaver-klaring.

Die essenblaarahornboom, een van die bome wat die vatbaarste is vir die indringer-boorkewer. Die bas is donker waar die kewer ingedring het. Foto’s: TREE WORKS VIA FACEBOOK

Die metro se parke-en-dieretuinafdeling (JCPZ) werk saam met die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF), navorsingsinstellings en diensverskaffers wat bome in stand hou om die omvang van die besmetting te dokumenteer en te karteer.

Julian Ortlepp, ’n medewerker van Tree Works, sê egter die metro bestuur dié probleem nie behoorlik nie en die kewer kan steeds versprei.

Metro-Beeld-Suid berig sedert Februarie oor die polifae (veelvretende) boorkewers (Euwallaceafornicatus) wat die bome met ’n dodelike fungus (Fusarium euwallaceae) besmet.

Die binnekant van ’n tak wat deur die kewer besmet is.

Dit is reeds in Johannesburg, die Walter Sisulu Botaniese Tuin aan die Wes-Rand, Bedfordview in Ekurhuleni en George in die Wes-Kaap geïdentifiseer.

“Ek was verlede naweek in Stellenbosch (in die Wes-Kaap). Ons het geen tekens van die kewer gevind nie, maar dit sal die dorp waarskynlik bereik,” sê Ortlepp.

“Die enigste oplossing is om die probleem behoorlik te bestuur. Dit is die owerhede se verantwoordelikheid, maar hulle hanteer die situasie baie sleg.”

Hy sê hy is regtig teleurgesteld in die metro, wat die groen erfenis moet bewaar. “Hy blyk egter heeltemal apaties te wees.

“Ek en ander rolspelers het in April vier uur saam met (verteenwoordigers van die metro) gesit en die verskeie kwessies bespreek. Nie een van die kwessies is opgelos nie.”

Selfs Herman Mashaba, burgemeester, het glo belowe om die saak op te los, maar niks het gebeur nie.

“ ’n Baie belangrike kwessie is die veilige verwydering van die besmette hout. Die metro se parke-en-dieretuinafdeling sou spesifieke stortingsterreine voorsien, maar hy het nie. Pleks van optrede, ontvang ons net verskeie mediaverklarings.”

Senzo Nyembe, bestuurder van die ekostelsel en oop ruimtes by die JCPZ, sê egter die vullisverwyderaar Pikitup is betrek om dié terreine te voorsien.

“Intussen toets ons die uitwerking van solarisasie by sy stortingsterreine.”

Sien jy die wit larwe in die tonnel?

“Inwoners wat hul dooie bome kap, word versoek om die besmette takke te solariseer deur dit in hul tuine met ’n plastiekseil te bedek en in die son te los. Die hitte onder die seil sal die kewer doodmaak en die hout kan dan herwin of gebruik word,” sê Nyembe.

Geen voorgestelde plaagdoders is al deur DAFF aanvaar nie.

Intussen verwyder die JCPZ nie die besmette bome in strate nie. Die uitsondering is een van die esdoringsoorte, die essenblaarahornboom (Acernegundo), wat hoogs vatbaar vir besmetting is.

Ortlepp sê die kewer sal aanhou versprei tensy die regering tussenbeide tree.

  • Simptome wissel, maar inwoners moet op die uitkyk wees vir wit vlekke op die boombas asook vir gom wat by gate uitsypel.
  • Moet liefs nie ’n lewende besmette boom verwyder nie, tensy dit ’n essenblaarahornboom is.
  • Moenie besmette hout op ’n onwettige plek aflaai nie.
  • Meld besmette bome steeds by trees@jhbcityparks.com aan tot die metro ’n meer omvattende oplossing vind.
  • Houtprodukte uit besmette gebiede moenie na onbesmette gebiede vervoer word nie.
  • Houtpalette moet baie mooi ondersoek en behandel word.
Meer oor:  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.