Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
BP moet opdok vir vulstasies

Regter Brian Spilg het die regspanne van die petroleumreus British Petroleum Suid-Afrika (BP) en Uzani Environmental Advocacy (UEA) Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg gelas om argumente aan hom voor te lê oor die omvang van die boete wat hy BP kan oplê weens die onwettige oprigting van 17 vulstasies in Gauteng.

Gideon (Kallie) Erasmus en Frik van Schalkwyk, stigterslede van die Uzani Environmental Advocacy.Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Spilg het BP op 1 April daaraan skuldig bevind dat hy die vulstasies opgerig het sonder die nodige omgewingsmagtiging.

Hy het Vrydag aan adv. Barry Roux SC, wat nou namens BP optree, en adv. Koos Pretorius, die UEA se regsverteenwoordiger, gesê hy wil regsekerheid kry oor die omvang van die boete.

Hul voorleggings moet op 1 November, voor vonnisoplegging, gedoen word

Dit is die eerste keer in die regsgeskiedenis van Suid-Afrika dat ’n groot maatskappy deur middel van ’n private vervolging skuldig bevind is aan omgewingsvergrype.

Spilg het bevind dat die rekords wat die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling gehou en waarin BP aansoek gedoen het om herstel ingevolge art. 24G van die Nasionale Omgewingsbewaringswet van 1998 (Nema), genoeg rede is om BP aan omgewingsvergrype skuldig te bevind.

Volgens getuienis wat vroeër gelewer is, het BP éérs die vulstasies opgerig en dan daarna by die departement aansoek om herstel gedoen. (Dít is bloot ’n administratiewe proses.)

Ingevolge die Omgewingsbewaringswet van 1989 kan BP ’n boete van R100 000 plus tot drie keer die kommersiële waarde van die vulstasies opgelê word.

Ingevolge Nema kan BP daarbenewens moontlik ook verder beboet word met ’n bedrag gelykstaande met die monetêre voordeel wat hy gekry het uit die onwettige oprigting van die vulstasies.

Die twee wette is samelopend van krag.

Spilg het destyds in sy uitspraak gesê Nema is geskryf om belanghebbendes “aan te moedig om omgewingsmisdadigers te vervolg”.

Hy het gesuggereer dat die regering daarin misluk het om juis dit te doen.

BP
BP

BP se vorige regsverteenwoordigers, onder leiding van adv. Mike Hellens SC, het destyds in die hof aangevoer die private vervolgers (die UEA) het nie in “dié geval” die reg om die maatskappy te vervolg nie. Hy het aangevoer private vervolgers kan nie ’n maatskappy vervolg in die geval van ’n 24G-herstelaansoek kragtens Nema nie.

BP het deurgaans volgehou hy is onskuldig en dat nie een van die vulstasies in ’n sensitiewe omgewing gebou is nie.

Hellens het ook aangevoer die UEA tree nie in die openbare belang of in dié van die omgewing op nie.

Volgens Gideon (Kallie) Erasmus, een van die stigterslede van die UEA, is BP aanvanklik daarvan aangekla dat hy 21 vulstasies sonder omgewingsgoedkeuring opgerig het. Met vier van die vulstasies kon die UEA wel nie bo redelike twyfel bewyse van enige oortredings kry nie. Dit is BP Winmore in Moreletapark, BP Soshanguve, BP Old Farm in Faerie Glen en die BP-vulstasie in Zambesirylaan, Montanapark.

Spilg het in sy uitspraak gesê Suid-Afrika se omgewingswetgewing beklemtoon die feit dat volhoubaarheid verseker moet word.

“Elkeen van ons word geraak deur aktiwiteite wat onderneem word en wat ernstige omgewingsimpakte het. Omgewingsbewaring is nie meer die eksklusiewe verantwoordelikheid van dié wat daarin bedrywig is of dié van ’n duistere administrasie of dié van ’n onbevoegde en potensieel geïnhibeerde wetstoepassingsagentskap nie.”

Hy het gesê ’n mens sou teen dié tyd al heelwat suksesvolle uitsprake verwag het, veral as ’n mens oplet na die omgewingsagteruitgang.

BP het Vrydagmiddag in ’n kort verklaring gesê hy stem steeds nie saam met die oorspronklike uitspraak nie. “Die regsproses gaan voort en BP oorweeg al sy opsies.”

Hy wou nie sê waarom hy van sy vorige regspan ontslae geraak het nie.

Meer oor:  Bp  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.