Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Buffel beseer rolprentmakers in Okavango
Dereck en Beverly Joubert is die naweek deur ’n buffel in Botswana aangeval.

Die bekroonde Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprentmaker-egpaar Dereck en Beverly Joubert is die naweek deur ’n buffel in die Okavango-delta in Botswana bestorm.

Derek het die nuus Saterdag op hul Facebook-blad, Dereck and Beverly Big Cat Conservation, en op Twitter bekend gemaak met die inskrywing: “Net om julle te laat weet, daar was gisteraand (Vrydag) ’n voorval waar ons deur ’n buffel in die Okavango bestorm is.

“Beverly en ek is albei beseer, maar Beverly veel ernstiger. Sy is nou stabiel in die waakeenheid en ons verwag dat sy gou sal herstel.”

In nog ’n inskrywing Sondag het Derek almal vir hul ondersteuning bedank.

Die egpaar, wat reeds verskeie kere bekroon is vir hul natuurlewerolprente, woon al meer as 30 jaar lank in die veld, veral in Botswana.

Die afgelope paar jaar is hulle inwonende ontdekkers (explorers-in-residence) vir National Geographic.

Hul dekking van roofdier- en ander dieregedrag het al 25 flieks, 11 boeke, ses wetenskaplike artikels en verskeie artikels vir National Geographic se tydskrif tot gevolg gehad.

Die Jouberts se werk is onder meer vir agt Emmy-toekennings, ’n Peabody- en ’n World Ecology-toekenning benoem. ’n Presidensiële orde van meriete is onlangs deur die Botswana-regering aan die Jouberts vir hul lewenswerk toegeken.

Beverly is ’n bekroonde fotograaf en verskeie van haar foto’s het al in National Geographic verskyn.

Die Jouberts met hul kameras gereed.

Daar word geraam dat hul dokumentêre rolprent Eternal Enemies, wat handel oor die interaksie tussen ’n trop leeus en ’n groep hiënas, al deur meer as ’n miljard mense gekyk is.

Albei is betrokke by bewaringsprojekte in Botswana en die Okavango.

Die egpaar het die Big Cats Initiative, ’n program vir National Geographic, op die been gebring.

Die program is as ’n noodaksiefonds gestig om die wêreld se aandag op groot katte te fokus en om werklike oplossings te ontwikkel om die afname in leeugetalle te keer wat die afgelope 50 jaar van 450 000 na 20 000 afgeneem het.

Beverly Joubert en haar man, Dereck, waar hulle is besig is om in die natuur te werk.

Meer oor:  Aanval  |  Buffel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.