Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Bulle draf in groen uit vir Sanparke

Die Vodacom Bulle draf Saterdag in die kragmeting op Loftus teen die Reds in groen rugbytruie uit om Sanparke se “helde” te vereer.

Pote Human, afrigter van die Vodacom Bulle, op Woensdag se mediakonferensie by Sanparke se hoofkantoor in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die rugbyspan het saamgespan met Sanparke en die tydskrif Wild Card om bewusmaking te skep oor die werk wat Sanparke se wildbewaarders daagliks doen om Suid-Afrika se nasionale parke te beskerm.

Die aankondiging is Woensdag gedoen op ’n mediakonferensie by Sanparke se hoofkantoor in Pretoria.

Die Vodacom Bulle Trevor Nyakane (stut), Jesse Kriel (heelagter) en Handré Pollard (losskakel) was teenwoordig toe die aankondiging gedoen is.

Die manne van Pretoria se groen truie is ontwerp deur Puma, die span se klereborg.

Puma het ook R50 000 aan Sanparke geskenk.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van Sanparke, sê die ondersteuning van die Vodacom Bulle sal baie doen om bewusmaking te skep vir bewaring en vir die mans en vroue in groen.

“Een van die grootste bewaringsuitdagings in die 21ste eeu is misdaad teen wilde diere en sonder hulp sal ons nie die aanslag op ons natuurlike erfenis kan keer nie,” sê Mketeni.

Dumisani Dlamini, Sanparke se finansiële hoof, en Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, met die trui waarin die Vodacom Bulle Saterdag gaan speel in hul kragmeting teen die Reds op Loftus. Foto: Deaan Vivier

“Ons is dankbaar vir die Vodacom Bulle se toetrede om ons natuurlike erfenis vir generasies vorentoe te bewaar.”

Die wildbewaarders plaas dikwels hul lewe op die spel om bedreigde spesies, soos die renoster, te beskerm.

’n Aantal superhelde, soos Loftus na Sanparke se veldwagters verwys, sal die aksie op die veld tussen die twee spanne vanuit die BBP-rusbank dophou. Ná die wedstryd gaan hulle ’n ererondte om die veld stap.

Dit dien as ekstra motivering om ons beste spel te speel.
Handré Pollard

As kaptein van die Vodacom Bulle sê Pollard bewaring lê ná aan die spelers se hart en dat hulle beter as gewoonlik sal speel vir hierdie spesiale geleentheid.

“Ons sal die voorreg hê om voor die Reds te staan te kom in die teenwoordigheid van sommige van Sanparke se veldwagters. Dit dien as ekstra motivering om ons beste spel te speel,” sê Pollard.

Die kragmeting tussen die Vodacom Bulle en die Reds op Loftus skop om 17:15 af.

Daar sal aktiwiteite wees vir die ondersteuners, en diegene wat die wedstryd bywoon, word aangemoedig om hul groen Vodacom Bulle-rugbytruie – of enigiets groen – aan te trek.

Trevor Nyakane, Jesse Kriel, Handré Pollard, Pote Human (afrigter) en Lizo Gqoboka van die Vodacom Bulle op die mediakonferensie oor Saterdag se wedstryd teen die Reds by Sanparke se hoofkantoor in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Die Blou Bul-senter Jesse Kriel by ’n afbeelding van ’n renoster by Sanparke se hoofkantoor in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Voor is Dumisani Dlamini, Sanparke se finansiële hoof, en Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, met die trui waarin die Vodacom Bulle Saterdag speel teen die Reds. Van links is, agter: Liza McCourt, bedryfshoof van Sanparke, Handré Pollard, Jesse Kriel, Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka by afbeeldings van renosters by Sanparke se hoofkantoor in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Die Vodacom Bulle se stut, Lizo Gqoboka, met ’n voorbeeld van die groen rugbytruie waarin die Bulle Saterdag gaan speel. Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  Sanparke  |  Bulle  |  Handré Pollard  |  Pote Human  |  Pretoria  |  Loftus  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.