Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Byna 250 renosters al vanjaar gestroop
Kally Ubisi, ’n veldwagter van Skukuza in die Krugerwildtuin, lê ’n krans ter nagedagtenis aan veldwagters wat die afgelope jaar dood is. Cathy Dreyer, hoofveldwagter van die Krugerwildtuin, kyk toe. Foto: Verskaf

249 renosters is in die eerste ses maande van die jaar in Suid-Afrika gestroop, met meer as helfte van hulle in die Krugerwildtuin.

Dit is meer as die 166 renosters wat landwyd in dieselfde tydperk verlede jaar gestroop is. In 2019 was die syfer 318.

715 stropingsaktiwiteite is vanjaar al in die Krugerwildtuin aangemeld, ’n styging van 3,77% sedert verlede jaar. 132 renosters en een olifant is in die wildtuin gestroop.

Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het Saterdag in ’n verklaring gesê die nasionale inperking in 2020 het bygedra tot ’n afname in renosterstropery. Die verslapping van die inperking vanjaar het egter weer tot ’n styging gelei.

Daar was veral ’n toename in gevalle in Limpopo, Mpumalanga en die Vrystaat, asook op private wildreservate.

Luidens die verklaring is 125 mense die afgelope ses maande vir stropery en die handel in renosterhoring in hegtenis geneem. 40 van die vermeende stropers is in die Krugerwildtuin vasgetrek.

Volgens die departement het samewerking tussen die Suid-Afrikaanse en Viëtnamese regering op 17 Junie tot een van die grootste beslagleggings op renosterhorings en ander wildlewe-produkte gelei. 139 kg se renosterhoring, asook vermoedelik leeubeendere, is deur die owerhede in Viëtnam gekonfiskeer.

Op dieselfde dag is 32 renosterhorings wat na Maleisië op pad was, op die O.R. Tambo-lughawe gekonfiskeer. Dié voorval word deur die Valke ondersoek.

14 sake is al vanjaar afgehandel en in 93% daarvan is vonnisse opgelê. 20 mense is gevonnis.

Van die suksesvolle vervolgings sluit in Solly Ndima wat tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is. Alsony Valoyi is tot 23 jaar tronkstraf gevonnis. George Vasco Tibane en Joao Matshinga Sithole is elkeen 19 jaar lank tronk toe gestuur. Dié stropers is almal Mosambiekse burgers.

249 renosters is al vanjaar gestroop. Foto: Argief

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, sê ’n multidissiplinêre benadering en samewerking met kritieke rolspelers is die sleutel tot hul sukses.

Die departement sê die enigste langtermyn-, volhoubare oplossing vir wildbewaring is dat gemeenskappe wat aan nasionale parke se grense woon, voordeel uit toerisme moet trek. Die departement wil daarom saam met gemeenskapsontwikkelingsprogramme en nieregeringsorganisasies werk om aandag te gee aan sosio-ekonomiese kwessies daar.

Wêreldveldwagterdag is ook Saterdag gevier en Creecy het hulde gebring aan 11 werknemers van Sanparke wat die afgelope jaar aan Covid-19 dood is.

“Ons bevind ons in ’n posisie waar ons pogings om wildlewe-misdaad soos renosterstropery te bekamp, geraak word deur die uitsonderlike omstandighede wat Covid-19 meebring,” sê sy.

“In ons stryd om ons wildlewe te bewaar en stropery stop te sit, is ons veldwagters aan die voorste linie en plaas hulle daagliks hul lewe op die spel, ondanks die bykomende risiko wat Covid-19 meebring.”

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Wilde Diere  |  Renosters  |  Vasgetrek  |  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.