Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Byna geen voëls in sig’ ná rioolvuil in dam beland

Onverwerkte rioolvuil het binne 48 uur glo minstens 500 voëls van ’n broeiplek in Port Elizabeth laat verdwyn.

Dit kom nadat rioolvuil in een van twee damme wat duskant die Caap Recife-verwerkingsaanleg in Port Elizabeth geleë is, beland het.

Barry Kurten, ’n ywerige voëlkyker wat dié dam minstens twee keer ’n week besoek om voëls af te neem, sê hy het Vrydag nog 11 voëlspesies by die dam getel. Teen Sondag was daar slegs enkele waterhoenders tussen die dik laag rioolvuil op die dam se oppervlak te sien.

“Op enige dag wat jy hier kom, kan jy minstens 500 voëls sien. Dit is ’n paradys vir voëls om te baljaar en te broei.

“Om net twee waterhoenders te sien is skrikwekkend, en dit moet weens die rioolvuil in die water wees.”

Die rioolvuil op die dam se wateroppervlak by die Cape Recife-verwerkingsaanleg was die afgelope week nog duidelik sigbaar. Water word uit dié dam na die see afgevoer. Foto: Lulama Zenzile

Kurten en sy vrou het oudergewoonte Sondag met ’n piekniekmandjie die dam besoek om by die Birdlife-voëlskuiling te gaan uitspan, maar nog voordat hulle die versnaperings kon uitpak, het die reuk van rioolvuil en die afwesigheid van voëls hulle weggedryf.

Barry Kurten, ’n ywerige voëlkyker, staan by die Birdlife-voëlskuiling, waar hy weekliks sy tyd deurbring om die onderskeie voëlspesies by die dam op kamera vas te vang. Foto: Lulama Zenzile

Volgens hom is daar meer as 200 voëlspesies wat die dam besoek, en het skaars spesies soos die sitrienkwikkie, geelkwikkie en die vleivalk al hul verskyning daar gemaak.

“Maar nie een van die voëls was in sig nie. Dit is ook die eerste keer dat ek geen eende hier sien nie, gewoonlik jol hulle oral op die water.”

Wat hom verder bekommer, is dat die water uit die dam na die see vloei.

“Ek hengel al hier vandat ek agt jaar oud is, die rioolvuil kan baie nadelige gevolge op die seelewe hê.

“Die groot ding is, dit gaan die seegras doodmaak. As die seegras dood is, gaan die hottentotvis weggaan, en die perlemoen en witmosselkrakers gaan beïnvloed word.

“En die groot vrae is: Gaan dit skoongemaak word en gaan die voëls weer terugkom?”

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit weet van die voorval.

Hy sê die twee damme is deel van die Cape Recife-verwerkingsaanleg. Volgens hom is die twee damme by die aanleg verbind en deel van die finale suiweringsproses voordat die water na die see vloei.

Hy sê die situasie sal ondersoek word, aangesien die verwerkingsaanleg nie gewoonlik onverwerkte rioolvuil na die damme uitpomp nie.

Rioolvuil wat na een van die twee damme langs die Cape Recife-verwerkingsaanleg afgevoer word. Foto: Lulama Zenzile
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Besoedeling  |  Voëls  |  Dam  |  Omgewing  |  Rioolvuil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.