Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Centurion: Ramp by rivier kon verhoed word, sê inwoners
’n Plakker langs die Hennopsrivier in Centurion het reeds sy hut herbou.Foto: Eric Pule

Inwoners glo ’n man se dood Dinsdag in die vloedwaters naby ’n informele nedersetting in Centurion kon verhoed gewees het as die Tshwane-metro meer ag geslaan het op hul vermanings oor die gebrek aan veiligheid langs die Hennopsrivier.

“Ek was daar toe reddingswerkers vanoggend die man se lyk uit die water gehaal het. Hy het glo verdrink toe hy deur die vloedwaters meegesleur is,” sê Eric Pule, ’n inwoner van die woonbuurt Doringkloof in Centurion.

Pule woon ’n klipgooi van ’n private eiendom naby SuperSport-park wat sedert 2016 deur informele nedersetters as ’n stortingsterrein en plakkerskamp gebruik word.

Volgens Pule het inwoners op die private eiendom geen toegang tot basiese dienste nie en het hulle in haglike omstandighede gewoon.

“Die plek waar die mense woon, is onder die vloedlyn. Die inwoners het dié gevaar al verskeie kere onder die owerhede se aandag gebring. Nou met die reën en vloede in die omgewing het die mense se hutte, hul besittings en die herwinbare materiaal wat hulle bymekaarmaak, verder stroomaf gespoel. Dit is nie net ’n maatskaplike kwessie nie, maar ook ’n ekologiese ramp,” meen Pule.

Die plek waar die mense woon, is onder die vloedlyn. Die inwoners het dié gevaar al verskeie kere onder die owerhede se aandag gebring. Nou met die reën en vloede in die omgewing het die mense se hutte, hul besittings en die herwinbare materiaal wat hulle bymekaarmaak, verder stroomaf gespoel.

Lindela Mashigo, Tshwane-metro-woordvoerder, sê die metro kon tot dusver nog nie daarin slaag om ’n plek vir die mense in die omliggende omgewing te vind wat geskik vir herwinningsaktiwiteite is nie.

Die mense van ’n informele nedersetting in Centurion se hutte, besittings en die herwinbare materiaal wat hulle bymekaarmaak, het stroomaf gespoel.Foto: Eric Pule

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder by die Tshwane-nooddienste, is 75 mense van die informele nedersetting, wat as Bagerezi bekend staan, na ’n gemeenskapsaal in Irene geneem toe hul hutte Maandag weggespoel het. “Ek kan bevestig dat die man wie se lyk Dinsdag uit die Hennopsrivier gehaal is ook langs die oewer gewoon het. Geen verdere besonderhede is oor die man bekend nie,” sê Mabaso.

Cilliers Brink, ’n DA-parlementslid en hoof van die party se kiesafdeling in Centurion, sê hy is bewus van die informele nedersettings langs die rivier.

“Hier is ’n les te leer. Eienaars van private grond moet, sodra informele nedersettings opskiet, die metroraad en die polisie kontak en ’n uitsettingsbevel bekom om te verhoed dat dit ’n brandpunt word en verder uitkring,” sê Brink.

Die eienaar van die grond is om kommentaar genader, maar het teen die tyd van publisering nie op enige boodskappe gereageer nie.

Meer oor:  Vloede  |  Plakkers  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.