Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Cheetah-wyfie vind ’n nuwe tuiste

’n Jagluiperdwyfie wat in die Oos-Kaap in gevangenskap gebore is, is vandeesweek met welslae in ’n reservaat in Limpopo vrygelaat.

Jasmin by die eerste prooi wat sy ooit in haar lewe gevang het. Foto: Ashia

Sy het baie gou alle tekens gewys dat sy steeds “ ’n wilde jagluiperd is” het Kristy Pienaar van die Ashia Cheetah Bewaringsorganisasie (ACB), Vrydag kort na die dier se vrylating gesê.

Nou wag almal volgens Pienaar op ’n liefdesverhaal.

Jasmin, soos wat sy gedoop is, is vyf jaar gelede gebore en het verlede jaar deel geword van ’n projek wat daarop gemik is om jagluiperds in die natuur vry te laat. Die projek is ’n gesamentlike inisiatief tussen Kuzuko Game Lodge in die groter Addogebied in die Oos-Kaap en ACB wat in die Wes-Kaap geleë is.

Jasmin was die eerste “half-mak” jagluiperd wat deur die projek ingeneem is. Sy is aanvanklik by Kuzuko in ’n boma aangehou. Sy is later in ’n groot wildernisgebied by Kuzuko vrygelaat. Nét tien dae na haar vrylating, het sy haar eerste prooi gevang. Hierna was dit nie weer nodig om haar enige byvoeding te gee nie.

Die projek was sedertdien op soek na ’n groter geskikte tuiste vir Jasmin. Dié geleentheid het gou gekom toe die eienaars van Makutsi, ’n private natuurreservaat in Limpopo naby die Krugerwildtuin die eienaars van Kuzuko genader met ’n versoek vir ’n luiperdwyfie vir hul mannetjie, Mavara, het ACB in ’n verklaring gesê.

“Nadat ons Makutsi besoek en met die eienaar, Heike Weber en die gids Daniel Brandao gepraat het, het ons geweet daar kan nie ‘n beter tuiste vir Jasmin wees nie,” het Chantal Rischard, stigter van Ashia gesê.

Mavara het ook sy eie tragiese verhaal, het Pienaar gesê.

Mavara, ’n wilde luiperd, is ’n paar maande gelede deur wildbewaringsamptenare uit die hande van stropers gered en na Makutsi gebring.

Hy was in ’n treurige toestand. Sowel sy voor- as agterpote was met draad vasgebind. Dit het ernstige skade aan sy onderbene aangerig.

Dr. Peter Caldwell, wildveearts, het hierdie “pragtige jagluiperdmannetjie se lewe gered deur verskeie operasies op hom uit te voer. Tydens dié operasies is senuwee-eindpunte, senings en bloedvate herstel. Mavara het sowat ses maande in die Old Chapel Dierekliniek deurgebring en wonderbaarlik ten volle herstel,” lui die verklaring.

Die enigste deel wat nog kortkom vir ’n gelukkige lewe vir Mavara, is die teenwoordigheid van ’n vrou.

Ondanks sy traumatiese beserings, het die vyfjarige jagluiperdmannetjie met welslae op Makutsi begin gejag. Mavara is met die hulp van die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) na Makutsi gebring.

Vincent van der Merwe, die EWT se koördineerder van die eenheid vir die metapopulasies van jagluiperds, het vir Mavara se hervestiging gesorg.

“Die enigste deel wat nog kortkom vir ’n gelukkige lewe vir Mavara, is die teenwoordigheid van ’n vrou,” het Weber gesê.

“Omring deur duisende hektaar bosveld wink daar nou ’n blink toekoms op Jasmin en Mavara en sal hulle hopelik vir ’n ryk nageslag sorg.”

Jasmin sal nou nog vir ’n ruk in ’n boma bly, maar sal binnekort vrygelaat word. Daar is genoeg prooi vir haar en Mavara op die reservaat. Albei is met halsbande toegerus en hul bewegings sal fyn dopgehou word.

Gerhard de Lange, Kuzuko se bestuurder, het gesê die program in samewerking met die Ashia Cheetah Bewaringsorganisasie is ontwerp vir die hervestiging van jagluiperds in die natuur en om hul kontak met mense so ver as moontlik te vermy.

Sewe jagluipers is reeds in dié kort tyd deur die program in die natuur vrygelaat.

Meer oor:  Vincent Van Der Merwe  |  Limpopo  |  Oos-Kaap  |  Cheetah-Wyfie  |  Jasmin  |  Mavara
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.