Meer as 174 t hout van inheemse bome wat onwettig afgekap word, verlaat Mosambiek daagliks deur verskeie hawens.
Die Portugese nuusagentskap Lusa het Dinsdag in ’n verklaring gesê dit is veral die suidelike Gaza-provinsie wat onder onwettige houtkappers deurloop. Sommige distrikte, veral dié in die sentrale en noordelike dele van die land, is omtrent heeltemal ontbos.
“Volgens ’n ontleding wat ons gedoen het, lyk dit of 174 t hout die land elke dag onwettig verlaat,” sê Carlos Pereira, direkteur van beskerming van die Mosambiekse regering se nasionale administrasie vir bewaringsgebiede (Anac).
In die omgewing van Massingir, die gebied wat grens aan die Groter Limpopo Oorgrenspark, is daar weens grootskaalse ontbossing feitlik geen bome meer oor nie. “Ons vernietig ons woude,” sê Pereira.
Hy wys daarop dat bome afgekap word vir kommersiële gebruik en vir brandhout.
“Ons sal alternatiewe moet kry vir daardie mense wat oorleef deur bome af te kap en houtskool daarvan te maak,” sê hy.
Chinese sit agter die ontbossing. Hulle gaan na die Mosambiekse platteland en oortuig armoedige mense om hulle te help bome afkap
In verskeie nasionale en internasionale ondersoeke en verslae, veral dié deur die nieregeringsorganisasie Environmental Investigation Agency (EIA), is vanjaar daarop gewys dat ernstige omgewingsmisdade, veral ontbossing, in Mosambiek se woude gepleeg word.
Die Mosambiekse regering raam die land se verlies aan inheemse bome en die smokkel van hout uit die land op tussen R2 295 miljoen en R3 000 miljoen per jaar.
The Epoch Times, ’n Amerikaanse koerant wat veral fokus op nuus uit China, het in Junie berig onwettige ontbossing, meestal deur Chinese maatskappye, het “ ’n spoor van verwoesting” in Mosambiek gelaat.
Dié veranderde landskap het mense kwesbaar gemaak vir siklone, soos Idai en Kenneth, wat die sentrale en noordelike provinsies van Mosambiek in Maart en April getref het.
Allan Schwarz, ’n omgewingskundige en stigter van die Mezimbite Forest Centre (MFC), ’n bewaringsprojek wat daarop gemik is om armoede in Mosambiek te verlig, het aan The Epoch Times gesê die krag waarmee Idai en Kenneth die land getref het, was ’n direkte gevolg van die “massiewe ontbossing” in die gebied.
Idai het die MFC se kantore platgevee. Meer as 1 000 mense is dood en byna 3 miljoen is dakloos gelaat weens die impak van Idai, terwyl skade van sowat R29,6 miljard aangerig is.
Global Forest Watch, ’n organisasie wat woude wêreldwyd monitor, het verlede jaar in ’n verslag gesê Mosambiek het van 2001 tot 2017 2,88 miljoen ha inheemse woude verloor. Alle vingers wys na China, wie se bevolking ’n voorliefde vir hardehoutsoorte het.
Bronne sê feitlik alle rooshoutbome in Mosambiek is afgekap en die land se kiaatbome is volgende in die visier. Ontbossing vind ook op groot skaal in Angola, Zimbabwe en Zambië plaas.
“Chinese sit agter die ontbossing. Hulle gaan na die Mosambiekse platteland en oortuig armoedige mense om hulle te help bome afkap,” het Imede Falume, ’n amptenaar van die Mosambiekse departement van bosbou, aan Reuters gesê.
In ’n onlangse navorsingstuk deur die Internasionale Instituut vir Omgewing en Ontwikkeling (IIED) – ’n onafhanklike organisasie in Londen wat beleid navors – is daarop gewys dat 93% van die hout wat Mosambiek verlaat, na China “uitgevoer” word.