Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Creecy vra verslag oor St. Lucia-meer

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het tussenbeide getree in die twis tussen twee bewaringsgroepe en hul wetenskaplikes oor die mond van die St. Lucia-meer.

Creecy dring nou by die iSimangaliso-vleilandowerheid aan op ’n omvattende verslag oor die beweerde eensydige besluite wat geneem is om die mond op 6 Januarie oop te stoot.

Creecy sê in antwoord op navrae sy het Vrydag met Sibusiso Bukhosini, uitvoerende hoof van die vleilandowerheid, vergader om vas te stel waarom die mond oopgestoot is.

Sy sê die vleilandowerheid bestuur die strandmeerstelsel kragtens ’n bestuursplan vir die riviermonding. Dié plan maak voorsiening vir “ingryping” in buitengewone omstandighede. Sy wil nou weet wat dié omstandighede is.

Lede van die iSimangaliso-aksiegroep (IAG), wat ’n belangrike rol gespeel het om die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) te oortuig om dié strandmeerstelsel en sy ketting mere tot ’n Wêrelderfenisgebied te verklaar, sê in ’n verklaring hulle was “geskok” om te verneem stootskrapers het die meer se mond vroeër vandeesmaand oopgestoot.

’n Lugfoto van die Isimangaliso-vleilandpark.

Hulle is veral beswaard omdat hulle op sosiale media daarvan bewus gemaak is.

Volgens Bryan Ashe, koördineerder van die IAG, was daar ook geen openbare oorlegpleging nie. Dié aksiegroep se lede is glo oor die hoof gesien toe ’n ander groep, WildOceans, glo ’n seminaar met Bukhosini en ander belanghebbendes oor die oopstoot van die mond gehou het.

Die besluit om die mond oop te stoot, is glo op een van hierdie seminare geneem.

Ashe en lede van die IAG dring nou by Creecy daarop aan om uit te vind waarom geen omgewingsimpakstudies gedoen is voordat die mond oopgestoot is nie.

“Ons wil weet wie die tender gekry het en hoeveel vir die werk betaal is. Ons wil ook weet uit wie se sak die geld kom.”

Hy wys daarop Creecy se departement finansier die iSimangaliso-vleilandowerheid.

Die IAG wil ook weet of dit wettig is om die mond oop te stoot in die lig van ’n hooggeregshofuitspraak in 2016 wat bepaal het die St. Lucia-meer se natuurlike ritme moet herstel word en menslike ingryping sal nie geduld word nie.

WildOceansSA sê op sy Facebook-blad dié bewaringsorganisasie is “baie tevrede en gelukkig” dat hy saam met die iSi­mangaliso-vleilandowerheid aan hierdie “positiewe inisiatief” kon werk.

Ander “belanghebbendes” wat by die inisiatief betrokke is, is Ezemvelo KZN Wildlife en “gemeenskappe wat om dié bewaarde mariene gebied leef en werk”, sê WildOceansSA.

Volgens dié organisasie sal die “herstel” van die St. Lucia-meer voordelig wees vir vis en ander mariene spesies om eiers te lê.

Alan Whitfield, ekoloog wat saam met WildOceansSA gewerk het, het aan RSG gesê die meer was besig om op te slik en dié strandmeer is “uniek” en die grootste in Afrika. Onder natuurlike omstandighede sou die mond 30% van die tyd toe wees en 70% van die tyd oop. Die mond het volgens hom die afgelope 20 jaar skaars oopgemaak.

Bheki Manzini, woordvoerder van die iSimangaliso-vleiland­owerheid, het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Bukhosini het Andrew Zaloumis opgevolg. Zaloumis het befondsing van miljoene rande ontvang vir die herstel van die ekologie van die St.Lucia-meer wat in 2014 begin en kort daarna afgehandel is.

Die stelsel het in 1952 laas natuurlik gefunksioneer. Suikerboere het in dié jaar die uMfolozi rivier se mond weggeskuif uit die St.Lucia-meer sodat dit deur ’n kanaal in die see uitmond.

Met die restourasiewerk is die uMfolozi na die meer terugherlei en mond dit sedertdien in die meer uit. Langdurige droogtes en reuse-suikerplase en plantasies, stroomop van die meer slurp baie van die water op voordat dit die meer bereik. Daar is dus nie genoeg waterdruk om die meer se mond natuurlik oop te stoot nie.


Meer oor:  Barbara Creecy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.