Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Cyril praat saam op Biden se klimaatberaad

Pres. Cyril Ramaphosa sal saam met wêreldleiers deelneem aan ’n tweedaagse klimaatberaad, waartydens hy opnuut Suid-Afrika se verbintenis in die stryd teen klimaatsverandering sal bevestig.

Ramaphosa se deelname volg op ’n uitnodiging van pres. Joe Biden van Amerika. Die beraad word weens die Covid-19-pandemie Donderdag en Vrydag op virtuele platforms gehou.

Die beraad is die eerste hoëvlakvergadering wat deur Amerika belê word sedert hul terugkeer na multilaterale klimaatbesprekings ingevolge die Parys-ooreenkoms.

Biden se voorganger, pres. Donald Trump, het Amerika vroeër aan die Parys-klimaatooreenkoms onttrek, waarna Biden gedurende sy presidentsverkiesingsveldtog teen Trump beloof het om Amerika se toewyding tot die stryd teen aardverwarming te herstel.

Die presidensie het voor die beraad in ’n verklaring gesê Suid-Afrika beskou die beraad as ’n geleentheid vir alle lande om leierskap uit te oefen in die beperking van klimaatsverandering, asook regverdige oorgang in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Raamwerk oor Klimaatsverandering (UNFCCC) en sy Parys-ooreenkoms.

“Suid-Afrika verwag ook van alle lande om van hierdie geleentheid gebruik te maak om vordering aan te dui met hul nasionale planne en beleidsimplementering rakende klimaatsverandering, soos die verbetering van hul Nasionale Vasgestelde Bydraes (NDC) tot die Parys-ooreenkoms,” lui die verklaring.

Een van die punte wat gedurende die Parys-ooreenkoms in 2015 onderteken is, is die betrokke lande se verbintenis om uitlaatgasse te beperk en te sorg dat die aarde se temperatuur teen 2030 nie met meer as 2 °C gestyg het nie.

Reuters berig intussen die Withuis was aan die vooraand van die klimaatberaad nog besig om sy plan vir die vermindering van kweekhuisgasse te finaliseer. Dít terwyl Biden se administrasie druk plaas op ander lande vir ambisieuse teikens om hul uitlaatgasse te verminder.

Amerika was histories die grootste sondaar ten opsigte van uitlaatgasse, maar staan tans tweede ná China.

Voordat die klimaatberaad Donderdag begin, is die verwagting dat die Withuis ’n aankondiging sal maak met ’n teiken om sy uitlaatgasse te verminder met rofweg 50% teen 2030, in vergelyking met hul vlakke van 2005.

“Om geloofwaardig te wees, weet ons dat ons groot moet gaan, ons moet moedig wees,” het Gina McCarthy, Biden se nasionale klimaatsadviseur, Woensdag gesê oor Amerika se NDC, wat binnekort onthul sal word.

Hoewel Biden se verwagte teiken van ongeveer 50%-besnoeiing deur talle verwelkom word, het onder andere Evan Weber, politieke direkteur van die invloedryke jeugaktivistegroep Sunrise Movement, gesê dié teiken sal nie naastenby genoeg wees nie.

• Die klimaatberaad sal Donderdag omstreeks 14:00 (Suid-Afrikaanse tyd) begin. Ramaphosa sal na verwagting omstreeks 15:30 sy toespraak lewer.

Die beraad sal regstreeks uitgesaai word op state.gov/climatesummit en whitehouse.gov.

Die presidensie sal ook die beraad op sy onderskeie digitale platforms uitsaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.