Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
DBV gryp in oor Kataza die bobbejaan

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ingespring om te probeer help in die verskuiwingsdrama waarin die bobbejaanmannetjie Kataza die hoofkarakter is.

Luidens ’n verklaring van die Kaap de Goede Hoop-DBV het hulle Kataza lank gemonitor nadat hy van Kommetjie na Tokai verskuif is.

Die Kaapse metroraad se standpunt is dat die verskuiwing noodsaaklik was “om inteling te voorkom”, maar diereliefhebbers meen “hy lyk eensaam”. Meer as 20 000 mense het ’n petisie geteken om te versoek dat hy na sy oorspronklike trop teruggeskuif moet word.

“Ons het gehoop dat hy sou kon integreer en sy op die Skiereiland sou kon voortleef, maar ons is nou bekommerd oor sy welstand asook die welstand van ander diere en die gemeenskap,” lui die verklaring.

Kataza die bobbejaanmannetjie. Planne word beraam om hom na Limpopo te verskuif. Foto: Verskaf/Sally Sivewright

Daarom het die DBV op 21 Oktober aan die Kaapse metroraad voorgestel dat Kataza gevang en na die Riverside Wildlife-rehabilitasiesentrum in Limpopo verskuif word. Dié sentrum word besit en bestuur deur die primatoloog Bob Venter, wat sê Kataza sal daar welkom wees.

Alle koste van die verskuiwing sal deur die DBV gedek word.

Die metroraad het aan die DBV gesê hy stem nie saam met sy waarnemings oor Kataza se toestand en gedrag nie, en dat hy ook nie die bobbejane besit nie.

Indien die DBV hom wil verskuif, moet hulle by CapeNature aansoek doen.

Hierdie aansoek is Vrydag na CapeNature gestuur.

“Ons beskou dit as die enigste oplossing in hierdie stadium. Om Kataza na sy oorspronklike trop terug te skuif is nie ’n opsie nie omdat dieselfde probleme met herintegrasie sal bestaan,” lui die verklaring.

Ryno Engelbrech, ’n prokureur wat in sy persoonlike hoedanigheid ’n saak teen die metroraad aanhangig gemaak het oor die besluitnemingsproses om Kataza van Kommetjie na Tokai te verskuif, sê hy sal die saak nie laat vaar nie.

Die saak sou Woensdag aangehoor word, maar die metroraad het die aansoek teengestaan en het dus sowat 15 dae om sy repliek in te dien. Datums vir die aanhoor daarvan moet nog bevestig word.

Hy het in sy aansoek onder meer gevra dat die merkers en GPS-koördineringsetikette van Kataza verwyder word. Dit is wel op 21 Oktober gedoen.

Die metroraad moet nog alle inligting en dokumente rakende die besluitnemingsproses aan hom en die hof verskaf.

Loren Pavitt, woordvoerder van CapeNature, het bevestig hulle het die aansoek ontvang. Daar is egter nog nie met die DBV oor die versoek gepraat nie.

Meer oor:  Dbv  |  Kataza  |  Bobbejaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.