Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
DBV: ‘Voëldief moet ’n kenner wees’

Die voëls van die Bloemfonteinse dieretuin wat weg is, sou nie sommer self weggevlieg het as die deurtjies voor hul hokke oopgemaak is nie.

“Die voëls is onfiks en het lanklaas gevlieg. Hulle sou beslis kom kos haal het, want hulle is gewoond om kos in die dieretuin te kry,” sê Reinet Meyer, senior inspekteur van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (BDBV).

Sy sê daar was boonop dubbele deurtjies voor die hokkies en slotte. Die slotte is dan nou ook weg.

Meyer, wat ’n klag van diefstal ingedien het oor die 18 voëls ter waarde van sowat R300 000 wat weg is, is oortuig daarvan dat iemand hulle oornag uit hul hokke kom haal het.

“Dit moes boonop ’n kenner gewees het, want die duur voëls is gevat en die goedkoop voëls is gelos. Die voëls sou so ’n goeie lewe gehad het met die plan wat ons vir hulle gehad het.”

Die probleem is dat almal wat by die dieretuin werk, met vragmotors en bakkies daar inry. Die sekerheidsdienste en kameras help nie veel nie.

Die voëls wat weg is, is ’n oranjekleurige Amasone-papegaai, een Senegal-papegaai, twee Kaapse papegaaie, twee blou en goue ara-papegaaie, een African Grey-papegaai, sewe rooikleurige parkiete en vier Swinhoe-fisante.

Hans Britz, DA-raadslid, se daar is ’n groot gat in die heining van die dieretuin van Parfittlaan se kant af waar daar met ’n swaarvoertuig ingery of ingebreek is. Enigiemand kon van daardie kant af deur die gat die dieretuin binnegekom en die voëls gesteel het.

“Die probleem is dat bosslapers nou deur die gat kan kruip en in die dieretuin gaan slaap.”

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die voëls is nog weg en die ondersoek duur voort. ’n Probleem is dat die voëls nie gemerk was nie en dat dit moeilik gaan wees om te bewys dit is die dieretuin se voëls.

André Schlemmer, hoofnatuurbewaarder van die departement van ekonomiese sake, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), sê daar was ’n aansoek vir permitte om die voëls te mag verskuif in Maart, maar dit is nog nie toegestaan nie.

Mbambo sê enigiemand wat die polisie met inligting kan help, word gevra om die ondersoekbeampte, ao. Stefan Grobbelaar van die veediefstaleenheid, by 072 434 3356 te bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.