Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Departement wil met R1 mjd. rioolvuil uit Vaalrivier kry
Die Vaaldam is die vierde grootste dam in die land en Gauteng se primêre waterverskaffer. Dis die grootste van ’n groep van 14 damme wat die geïntegreerde Vaalrivierstelsel onderhou. Foto: Deaan Vivier

Die departement van water en sanitasie gaan met ’n begroting van nagenoeg R1 miljard ingryp om rioolsuiweringsaanlegte wat onverwerkte rioolvuil in die Vaalrivier stort, op te knap.

Die besoedeling van die geïntegreerde Vaalrivierstelsel is “ ’n ernstige uitdaging vir die maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling van Gauteng”, het Simon Maphangula, direkteur van die departement se watersektor-ondersteuning in die provinsie, Dinsdag aan joernaliste langs die Vaaldam gesê.

Die nasionale departement het ingegryp nadat Ekurhuleni Water Care Company (Erwat) se kontrak in Junie verstryk het.

“Ons was nie tevrede met die vordering wat Erwat gemaak het nie, en het toe besluit om nie hul kontrak te hernu nie,” het Maphangula gesê.

Die Emfuleni-afvalwatersuiweringstelsel – wat bestaan uit drie suiweringsaanlegte, 44 pompstasies en nagenoeg 1 600 km lange pypleidings – het in 2017 in duie gestort weens ’n gebrek aan instandhouding en omdat infrastruktuur nie kan tred hou met die groeiende bevolking nie.

Die water wat op hierdie foto uitgelaat word, is uitsluitlik bedoel vir Eskom se Lethabo-kragstasie en die Sasol-aanleg by Sasolburg. Foto: Deaan Vivier

In November 2018 is weermag-ingenieurs ontplooi om die stukkende pompstasies te herstel, maar hulle het nie genoeg geld gekry nie en moes die program staak lank voordat dit klaar was. Erwat het in 2019 as inwerkingstellingsagent by die soldate oorgeneem.

Volgens Maphangula het Erwat R35 miljoen oorbestee op hul begroting van R141 miljoen. “Die rede is kontrakteurs wat aangehou werk het toe hulle nie moes gewerk het nie,” het hy gesê.

Erwat het verstoppings en 50 ton rommel uit 25 km se pypleidings, asook mangate, verwyder. Die inwerkingstellingsagent het ook “ ’n bietjie skoongemaak” aan die primêre en sekondêre besinkingstenks, ’n komponent van rioolsuiweringswerke.

Wat lê voor?

Nou lê die groot werk voor wat blykbaar R911 miljoen gaan kos: Die departement moet oor drie jaar herstel- en opknappingswerk aan al 44 pompstasies en die drie suiweringsaanlegte – Sebokeng, Leeuwkuil en Hoedspruit – laat doen. Die grootmaatnetwerk (pype en tonnels) kort ook opknapping.

“Ons moes ingryp. Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar.

Die Vaaldam is vandeesweek slegs 34,8% vol.Foto: Deaan Vivier

“Van die pompstasies is nie met die regte pompe toegerus nie en die pype is te klein om die groot volume rioolvuil te hanteer. Ander (infrastruktuur) is te oud. Sommige is 10 jaar gelede laas gediens,” het Maphangula gesê.

Wanneer infrastruktuur nie in stand gehou word nie, vloei die onverwerkte rioolvuil bloot verby die suiweringsaanleg of syfer deur stukkende pype in die rivier in.

Gaan Erwat beboet word vir die sloerdery? “Ons het nog nie daar uitgekom nie. Ons het nie gesê ons is nie tevrede met hul werk nie; ons het net gesê ons is nie tevrede met hul pas van werk nie,” sê Maphangula.

In die eerste fase van ingrype wil die departement in samewerking met die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake besoedeling rivierop hokslaan.

Dit sluit die Vaaldam in, wat deur onder meer die Wilgerivier en water uit Lesotho gevoed word.

’n Nuwe kantoor by die Emfuleni-munispaliteit bestuur die program en die tenderprosesse het reeds begin.

Fase 2 van die ingryping sal fokus op die water stroomaf. Hier sal die departement saam met plaaslike regerings in Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat moet werk. Emfuleni is maar een van 26 munisipaliteite wat die Vaalrivier besoedel, het Maphangula gesê.

Die departement wil ook hierdie munisipaliteite help om hul geld beter te bestuur omdat hulle jaar ná jaar nie genoeg geld vir instandhouding begroot nie.

Vaaldamvlakke laag: Is Gauteng in die knyp?

Die ingryping kom in ’n tyd dat die Vaaldam, die vierde grootste dam in die land en Gauteng se primêre waterverskaffer, maar 34,8% vol is.

Die Vaaldam voorsien water aan onder meer huishoudings, Eskom se Lethabo-kragsentrale en die Sasol-aanleg in Sasolburg.

Die departement is egter nog nie te bekommerd dat Gautengers se krane gaan leegloop nie omdat die Vaaldam een van 14 damme is wat die Vaalrivierstelsel voed en die stelsel tans die Vaaldam ondersteun, het Celiwe Ntuli, die departement se wetenskaplike bestuurder van die operasie vir die beplanning van waterbronstelsels, verduidelik.

Daar is boonop nog die Sterkfonteindam by Harrismith, wat as ’n reserwe vir die Vaaldam dien.


Meer oor:  Simon Maphangula  |  Rioolvuil  |  Vaaldam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.