Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Dié ‘Blackhawk’ stropers se moses

David Simelane glimlag breed. Hy is nog net so kinderlik-opgewonde om in ’n helikopter te klim as 21 jaar gelede toe hy vir die eerste keer gevlieg het.

“Daar is werklik nie ’n beter gevoel as om daar bo te wees nie,” sê die 40-jarige Simelane, wat verlede week Sanparke se eerste wildvangvlieënier van kleur geword het. Met dié moeilike gradering agter die blad het Simelane een van slegs vier helikoptervlieëniers by Sanparke geword wat hul geesdrif vir die natuur, diere en vlieg elke dag kan uitleef. Kapt. Simelane is die trotse vlieënier van ’n Airbus H125, wat ook as ’n Squirrel-helikopter bekend staan. Hy het aan die begin van die jaar by Sanparke begin werk.

“Dit het alles begin toe ek destyds as ’n junior rekenaartegnikus saam met ’n vriend in ’n helikopter gevlieg het. Ek was toe 19 en die helikopter was ’n Robinson R22. Die gogga het my toe gebyt en ek het probeer uitvind wat om te doen om my droom te verwesenlik,” vertel hy.

Simelane, ’n boorling van Barberton in Mpumalanga, het in 2004 tot ’n senior rekenaartegnikus gevorder, maar kon nie sy droom om as helikoptervlieënier te werk laat vaar nie. “Ek het sommer net geweet dit is wat ek moet doen met my lewe. Ek het toe besluit om die rekenaars vaarwel te roep en myself as ’n kommersiële helikoptervlieënier te bekwaam. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis,” lag hy.

Van links is David Simelane, dr. Louis van Schalkwyk (agter), ’n veearts, en vlieginstrukteur Boeta Dippenaar.
David Simelane kombineer vlieg met sy liefde vir die natuur en diere.

Simelane staan onder sy kollegas by Sanparke as “Blackhawk” bekend – sy roepnaam toe hy gesteelde en gekaapte motorvoertuie vir Netstar in 2006 help opspoor het.

Hy is die afgelope 16 jaar ’n helikoptervlieënier, ’n roeping wat hom oor die hele wêreld geneem het, insluitend plekke soos Madagaskar en Suid-Soedan. “Ek was al oral, maar niks gee my meer bevrediging as om in my eie land te vlieg nie,” sê Simelane.

Hy sal nie net lugvervoer en ondersteuning aan Sanparke se personeel in die Nasionale Krugerwildtuin met wildvang bied nie, maar ook betrokke wees by die opspoor van stropers.

“Om ’n helikopter te vlieg is mos nie ’n werk nie – dit is ’n passie. Dit hou ’n mens op jou tone,” sê hy.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van Sanparke, hoop Simelane se entoesiasme spoor ander jong swart aspirant-vlieëniers aan om hul drome na te jaag.

“Dit is opgeleide en geesdriftige mense soos David wat ons in staat stel om Suid-Afrika se natuurlike en kulturele erfenis vir ons nageslagte te bewaar,” sê Mketeni.

Meer oor:  Sanparke  |  Stropers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.