Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Dié lug maak ons dood’

Twee nieregeringsorganisasies (NRO's) het die hooggeregshof in Pretoria gevra om die departement van omgewingsake opdrag te gee om die besoedelde, “dodelike” lug in Mpumalanga se Hoëveld “op te ruim” en sy eie wetgewing toe te pas.

Die Vukani Environmental Justice Movement in Action en groundWork het Maandag aangevoer die regering, en spesifiek die departement van omgewingsake, oortree mense se grondwetlike reg op ’n skoon en gesonde omgewing.

Adv. Steven Budlender SC, wat namens die organisasies optree, het gesê 14 jaar nadat Mpumalanga se Hoëveld as ’n brandpunt van lugbesoedeling verklaar is, het die opeenvolgende ministers van omgewingsake “bloot hul arms gevou en niks gedoen om die lug(-gehalte) in dié gebied te verbeter nie”.

Inwoners van Mpumalanga teken buite die hooggeregshof in Pretoria protes aan teen die regering se traagheid om die besoedelde lug in dié provinsie skoon te maak en besoedelaars vas te vat. Foto: Daylin Paul

Hy het aan regter Colleen Collins gesê “die lewe van duisende mense wat in dié gebied gewoon en gesterf het, sou gered kon word as die lug wat hulle daagliks ingeasem het, skoon was”.

Budlender het gesê die burgerlike organisasies wil hê die regering moet die plan toepas wat hy in 2012 opgestel het om die luggehalte in die gebied te verbeter.

Dié plan sou in 2020 ten volle in werking gewees het. Dit het egter nie gebeur nie en die luggehalte het ook nie verbeter nie, het Budlender gesê.

Hy het daarop gewys dat Barbara Creecy, minister van omgewingsake, self “onder eed” erken het dat kragstasies en nywerhede in Mpumalanga die standaarde vir luggehalte oortree.

Amptenare erken ook “ ’n deel van die probleem is die feit dat die plan nie die wetlike tande het nie”, het hy gesê.

Inwoners van Mpumalanga staan buite die hooggeregshof in Pretoria met kruise en plakkate waarop geskryf staan dat die verbranding van steenkool mense siek en later doodmaak. Foto: Daylin Paul

Volgens Budlender het die twee NRO’s die hof genader om seker te maak die minister gebruik haar magte om die plan toe te pas.

Budlender het gesê die minister het ’n regsplig om die plan onmiddellik in werking te stel.

“Niks van wat die NRO’s vra, is omstrede nie omdat die minister self erken het die luggehalte (in Mpumalanga) is skadelik vir mense se gesondheid. Die minister erken dus daar is ’n probleem.”

Hy het gesê die organisasies het alle alternatiewe uitgeput voordat hulle die hof genader het. Hulle het dus geen ander uitweg gehad nie.

Adv. Lerato Zikalala, wat namens dr. David R. Boyd, spesiale gesant van die Verenigde Nasies oor menseregte en die omgewing, as vriend van die hof opgetree het, het gesê Boyd vra die hof om ’n beslissing te maak wat kinders en armes se lewensgehalte en gesondheid in ag neem.

Adv. Jolandie Rust, wat namens Creecy optree, het Collins gevra om Boyd se aansoek te verwerp, onder meer omdat die land se kragstasies in die omgewing is en dit elektrisiteit aan die land verskaf.

Sy het gesê mense wat nie toegang tot elektrisiteit het nie, sal nog armer word as wat hulle reeds is.

Die saak gaan vandag voort.

Meer oor:  Hoëveld  |  Mpumalanga  |  Lugbesoedeling  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.