Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Dié mynwet ‘verkwansel menseregte’

So lank as wat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) in sy huidige vorm voortbestaan, sal daar nie vrede in Suid-Afrika wees nie en sal menseregte vertrap word.

So het Meshack Mbangula, koördineerder van die nieregeringsorganisasie Mining Affected Communities United in Action (Macua), gister aan Beeld gesê. Hy het gepraat ná die sluipmoord op die aktivis Fikile Ntshangase (65) van Ophondweni op die grens met die natuurreservaat Hluhluwe-iMfolozi (HiP) in die noorde van KwaZulu-Natal.

Ntshangase was ’n vurige teenstander van die Tendele-antrasiet- en steenkoolmyn se uitbreidingsplanne in die rigting van die HiP.

Mbangula sê sy was “gekant teen die destruktiewe uitbreiding van die Tendele-myn toe sy koelbloedig vermoor is”.

Mbangula het gesê Macua met sy meer as 5 000 lede beywer hom daarvoor dat die MPRDA geskrap of verander word en dat die land se minerale in die hande van Suid-Afrikaners geplaas word.

Fikile Ntshangase (65) Foto: ROB SYMONDS

Ingevolge die MPRDA is die land se minerale in 2004 in die hande van die regering geplaas wat dit “vir alle Suid-Afrikaners in trust” hou.

Macua beskou die moord op Ntshangase as ’n oorlogsverklaring deur die regering. “Dit is ’n oorlogsverklaring teen die mense van Suid-Afrika, asook teenoor die natuurlike omgewing.”

Mbangula het gesê dit word by die dag vir alle Suid-Afrikaners duideliker dat mynhuise met sekere “elemente” in die regering saamsweer om die reg van gemeenskappe en die omgewing vir die finansiële gewin van ’n paar mense te ondermyn.

Volgens hom het Macua inligting dat Tendele “verskeie vergaderings” met Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, provinsiale regeringslui en die kantoor van die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelentini, gehad en nog sou gehad het.

Macua is voorts ontsteld oor ’n verklaring wat die mynvakbonde NUM en Amcu Vrydag namens Tendele gedoen het.

Pleks daarvan dat die vakbonde in die belang van die gemeenskap, die omgewing en geregtigheid optree, skaar hulle hulle nou by die myn.

Somkhele en Xolobeni (waar Sikhosiphi (Bazooka) Rhadebe in 2016 ook in ’n sluipmoord doodgeskiet is) is nie geïsoleerde gevalle nie.

“Ons kry oor Suid-Afrika heen klagte van gemeenskappe wie se regte vertrap word. Die patroon van sluipmoorde, omkopery en opsetlike veldtogte om tradisionele leiers om te koop en skurke wat betaal word om gemeenskappe se stem te onderdruk, raak ’n algemene verskynsel.”

Macua is bekommerd daaroor dat pres. Cyril Ramaphosa in sy ekonomiese herstelplan aangekondig het myn­lisensies en -goedkeurings sal voortaan vinniger afgehandel word.

Die bloed wat vloei en nog gaan vloei, asook die vernietiging van die omgewing en gemeenskappe, sal voor sý deur gelê word, het Mbangula gesê.

Macua vra al vir baie jare dat die MPRDA gewysig word sodat gemeenskappe en die omgewing beskerm word, asook mense se reg om “nee te sê vir mynbou”.

Intussen het agt gemeenskapsorganisasies in ’n gesamentlike verklaring gesê Tendele se bedrywighede het tot dusver “ongekende vernietiging van die natuurlike omgewing, die huise en die lewensbestaan van die inwoners van Somkhele veroorsaak”.

Die koalisie van NRO’s, onder leiding van die Mfolozi Community Environmental Justice Organisation, het ’n beroep op Tendele gedoen om sy veldtogte om gemeenskappe te verdeel en geweld aan te blaas ,onmiddellik te staak.

Beeld het Jan du Preez, uitvoerdende hoof van Tendele, wat aan Petmin behoort, herhaaldelik om kommentaar genader. Hy het gesê hy sal moontlik later kommentaar lewer.

Meer oor:  Fikile Ntshangase  |  Kwazulu-Natal  |  Vermoor  |  Wetgewing  |  Aktivis  |  Menseregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.