Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Diere na China ‘gesmokkel’
’n Uitgeteerde en verwaarloosde leeu lê op ’n ysterbed. Die enigste tekens van plantegroei is die tekeninge teen die vuil mure. Dié leeu, wat vanaf Suid-Afrika na China uitgevoer is, word in die Tiandjin-dieretuin in China aangehou. Foto’s: BAN ANIMAL TRADING

Suid-Afrikaanse telers en handelaars het van 2016 tot 2019 minstens 5 035 bedreigde wilde diere met die hulp van regeringsamptenare onder die dekmantel van wettige uitvoer na China “gesmokkel”.

Dié inligting is vervat in "Breaking Point: South Africa’s Shameful Live Wildlife Trade with China", wat verlede week gepubliseer is.

Die outeurs van die verslag is dr. Smaragda Louw van die bewaringsorganisasie Ban Animal Trading (BAT) en Michele Pickover van die EMS-stigting.

Hulle skryf “duisende lewende wilde diere” is in drie jaar na China “uitgevoer” met die hulp van permitte wat deur amptenare in die departement van omgewingsake se afdeling vir die konvensie vir die handel in bedreigde fauna en flora (Cites) goedgekeur en onderteken is.

Uitheemse diere, wat vroeër na Suid-Afrika op ewe bedenk­like maniere uitgevoer en toe hier geteel is, is ook na China uitgevoer.

Dit sluit in jagluiperds, renosters, wildehonde, wilde katte, bakoorvossies, jakkalse, hiënas, ape, kameelperde, leeus, meerkatte en pikkewyne.

’n Witrenoster wat vanaf Suid-Afrika na die Djinan-wildpark in Sjandong uitgevoer is.

Uitheemse diere, wat vroeër na Suid-Afrika op ewe bedenk­like maniere uitgevoer en toe hier geteel is, waaronder sjimpansees, tiere en marmoset-apies, is ook na China uitgevoer.

Louw het Sondag gesê sy en Pickover het in 2017 met hul ondersoek begin deur aansoeke vir afskrifte van Cites-permitte (vir die uitvoer van wild na China) by die departement van omgewingsake in te dien. Hulle het die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebruik om dit te bekom.

“Meer as 80% van ons aansoeke is van die hand gewys.”

Volgens Louw het die feit dat Cites-permitte vir die uitvoer van Suid-Afrika se wild na China in “soveel geheimhouding” gehul was, die rooi ligte laat flikker. “Twee provinsies se amptenare het vir ons enkele permitte gegee.”

Toe het die harde werk vir dié twee vroue begin. Op die Cites-permitte verskyn die oorsprong van die diere, asook die naam van ’n tussenganger (handelaar) en die adres van die bestemming waarheen die diere uitgevoer word. Ingevolge Cites-regulasies moet die bestemming “ ’n geskikte gerief” vir die verhandelde dier wees.

Die proses begin by teelplase in Suid-Afrika. Met behulp van die enkele Cites-permitte wat Louw en Pickover in die hande gekry het, het hulle elke teelplaas (in Suid-Afrika) stelselmatig gefynkam en gedokumenteer.

Talle van hierdie teelplase funksioneer glo onder die dekmantel van bewaring en bewusmaking van spesies. Hulle adverteer wyd, veral op sosiale media en nooi selfs die publiek uit om hul geriewe te besoek. ’n Alfabetiese lys van 28 teelplase word in die verslag genoem.

Die eienaars van die teelplase het noue bande met handelaars wat miljoene rand verdien deur as tussengangers in China op te tree.

Die eienaars van die teelplase het noue bande met handelaars wat miljoene rand verdien deur as tussengangers vir amptenare en hul eweknieë in China op te tree.

“Alles op papier lyk dus wettig,” sê Louw. “Ook die geriewe waarheen die diere in China gestuur word.”

Louw het in 2018 met die klomp Cites-permitte op ’n vliegtuig geklim en Suid-Afrika se wild in China gaan soek.

’n Olifantkalfie word in die Djinan-dieretuin aangehou.

Wat sy daar gevind het, het haar “tot in haar siel geskok”.

Baie van die gelyste invoerders kon nie opgespoor word nie. Die diere ook nie.

Sy het wel van die diere in agterlike dieretuine in China gekry, waar die meeste diere ondervoed was.

Die verslag sê foto’s wat in Chinese dieretuine geneem is, wys yskoue, afgeleefde vertrekke “wat hul eie storie vertel van dierewelsynskendings en naakte hebsug”.

Die Chinese noem baie van hierdie plekke “temaparke”. Op een plek, naby ’n bushalte, word sjimpansees (wat van Suid-Afrika af ingevoer is) in ’n glashok met “boomstompe van beton” uitgestal.

Van haar bronne in China het aan haar gesê van Suid-Afrika se wildehonde is na die Green World Breeding Farm gestuur waar met hulle geteel word. Dit is nie duidelik wat hul uiteindelike bestemming is nie.

Baie van die diere, soos primate, veral die marmoset-ape, gaan na laboratoriums in China waar eksperimente op hulle uitgevoer word.

Louw sê hierdie laboratoriums is “massief” en ’n nuwe manier waarop China geld maak. Sy het ook uitgevind van diere wat in China geteel word en dan na laboratoriums in Amerika uitgevoer word. Van die verhandelde diere wat vanaf Suid-Afrika kom, beland ook in sirkusse.

In die verslag word dit duidelik gemaak dat Suid-Afrika die grootste uitvoerder van wilde diere in Afrika na Asië is.

’n Koalisie van dierewelsynsorganisasies, waaronder EMS en BAT, span nou saam om die kommersialisering en handel in wilde diere geheel en al verbied te kry weens die wreedheid daarvan.

Maar, sê Louw en Pickover, dit moet ook verbied word, omdat daar ’n direkte verband is tussen die handel in wilde diere en pandemies, soos Covid-19, wat nou feitlik elke sektor in die wêreld lamgelê het.

Die handel in wilde diere hou volgens hulle ook ’n direkte bedreiging in vir die oorlewing van spesies.

In die verslag word uitgewys dat Cites se regulering van die handel in wild ’n “valse vertroue” skep dat “alles in hierdie bedryf korrek gedoen word, dat dit volhoubaar is en tot bewaring bydra”.

In die verslag word lyste gegee van swak besluitneming en duistere transaksies.

“Die wettige handel is inderwaarheid ’n voertuig vir sluikhandel,” sê Louw.

Sy het gesê die handel in wild tussen Suid-Afrika en China is “massief, ekologies onvolhoubaar en ineengevleg met sindikate wat met diere smokkel. Suid-Afrika se bewaringsreputasie is aan flarde”.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en vissery, het Vrydag op ’n dringende vergadering met BAT en die EMS gesê sy “neem die aantygings in hul verslag ernstig op” en sal in die volgende drie maande ’n ondersoek na elkeen daarvan doen.

Louw het gesê die verslag is ook aan Cites gestuur.

Francisco Pérez, Cites se kommunikasiebestuurder, het aan The Sunday Times gesê die verslag sal bestudeer word en as dit lyk asof daar oortredings is, sal opgetree word teen die skuldiges.

Sjimpansees wat vanaf Mystic Monkeys & Feathers Wildlife Park naby Rust Winter by Bela-Bela na China uitgevoer is, word in die Beijing Greenscape Dieretuin in ’n glashok aangehou. Die “bome, klippe en boomtakke” is alles van beton. Foto: KARL AMMANN
Memorandum

BAT en EMS stel tans ’n memorandum op wat hulle vandeesweek aan Creecy sal oorhandig wat gebruik moet word tydens die ondersoek. Pieter Peyper, prokureur van J.J. van der Westhuisen, eienaar van die Letsatsi la Africa Wild Animal & Predator Park, het in ’n brief aan Beeld gesê hy tree op namens verskeie onafhanklike telers en uitvoerders. “Buiten dat ons die valse en lasterlike aantygings in die verslag ontken, gaan ons in die stadium nie kommentaar lewer nie. Ons behou egter ons regte voor.”

Christa Saayman, eienaar van die Mystic Monkeys & Feathers Wildlife Park naby Bela-Bela, het erken dat sy onder meer 18 sjimpansees na China uitgevoer het. Volgens haar is die Greenscape-dieretuin in Beijing waar hulle aangehou word, ’n “vyfsterbestemming”.


Meer oor:  China  |  Natuurbewaring  |  Wilde Diere  |  Wildbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.