Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Dis geld in die water’

Suid-Afrika moet hom dadelik aan ’n internasionale ooreenkoms vir die verkryging van peperduur hidroëlektrisiteit onttrek, vra ’n drukgroep.

Die nieregeringsorganisasie International Rivers (IR) doen ’n beroep op Tito Mboweni, minister van finansies, om Suid-Afrika so gou moontlik te onttrek aan die ooreenkoms wat die land in 2013 met die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) onderteken het vir die verkryging van hidroëlektriese krag vanaf Inga3.

Siziwe Mota, woordvoerder van IR, het Maandag gesê dit is noodsaaklik dat Mboweni Woensdag in sy begrotingsrede oor hierdie aspek praat en sy voorneme bekend­ maak om die land aan hierdie duur ooreenkoms te onttrek.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

Inga3 is die derde fase van die Grand Inga-projek, wat die DRK hoop die grootste hidroëlektriese skema ter wêreld sal wees.

Mota sê Suid-Afrika gaan ’n “finansiële ramp” tegemoet as die ooreenkoms nie verbreek word nie.

Sy waarsku slegs die bou-werk aan die infrastruktuur vir Inga3 sal Suid-Afrika sowat R59 miljard ($4 miljard) uit die sak jaag.

Suid-Afrikaners sal boonop jaarliks na verwagting R175 miljoen meer betaal vir dié ingevoerde krag as waarvoor dit plaaslik opgewek kan word, sê sy.

“Ondanks die feit dat Suid-Afrika ’n bekostigbare en betroubare bron van krag nodig het, is die regering blykbaar daartoe verbind om hidroëlektrisiteit van Inga3 te kry,” lui ’n verklaring deur IR, wat na Inga3 as die DRK se “lugkasteel” verwys.

Pleks daarvan om hierdie duur projek, wat reeds met dekades vertraag is, te ondersteun, behoort Mboweni aan te kondig Suid-Afrika gaan hom aan dié ooreenkoms onttrek en eerder ’n belegging in hernubare energie op eie bodem doen, sê sy.

Die verklaring lui Suid-Afrika het in 2013 die ooreenkoms met die DRK onderteken.

Die ooreenkoms word in 2023 van krag en daarna kan Suid-Afrika hom nie meer daaraan onttrek nie.

As Inga3, wat in die Kongo­rivier gebou word, ooit realiseer, sal Suid-Afrika eers in 2033 krag daarvan ontvang, sê Mota.

“Dit is sinneloos. Ons het nóú goedkoop krag nodig.”

Die Ingadam sou aanvanklik 4 800 MW krag lewer. Hiervan sou Suid-Afrika 2 500 MW kry.

Jeff Radebe, destydse minister van energie, het in Desember 2018 aangekondig Suid-Afrika stel daarin belang om 5 000 MW vanaf Inga3 te ontvang.

Dié toekomstige krag is reeds deel van Suid-Afrika se geïntegreerde hulpbronplan.

“Pleks daarvan om hierdie risiko aan te gaan, moet die regering homself uit dié ooreenkoms wikkel. Suid-Afrikaners verdien ’n deursigtige uiteensetting van die koste van Inga3 en hoe die land daarby gaan baat vind.

“Suid-Afrikaners het die afgelope dekade reeds swaar gebuk gegaan onder korrupsie, finan­siële wanbestuur en swak regering. Al hierdie kwessies dreineer die staatskas.

“Suid-Afrika kan dit nie bekostig om geld in die water te gooi ter ondersteuning van ’n waardelose projek nie.

“Ons verwag van Mboweni om aan Suid-Afrikaners die versekering te gee dat die regering nie ’n enkele rand op Inga3 sal bestee nie.”

  • Die regering van die DRK het sowat ses maande gelede ’n konsortium aangestel wat die ontwikkeling van Inga3 sal bestuur. Die konsortium bestaan uit ses Chinese maatskappye en AEE Power Holdings, wat in Spanje gebaseer is.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Siziwe Mota
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.