Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Dohne-merino-ooi lam nadat sy jakkalsaanval oorleef
Luzanne het Donderdag die foto van Ouma Anna en haar blinknuwe lam, Eva, geneem. Sy sê dit gaan goed met hulle. Foto: Luzanne Steenkamp

’n Dohne-merino-ooi van Calvinia in die Noord-Kaap wat sleg deur ’n jakkals verskeur is, het met haar hele wese aan die lewe geklou – oënskynlik vir haar ongebore lam se onthalwe.

Luzanne Steenkamp, wat ’n skoonheidsalon op die dorp bedryf, het Woensdagaand op sosiale media geskryf oor haar verwondering oor die moed en deursettingsvermoë van die ooi, wat sy Ouma Anna gedoop het, en ook die verrassing wat haar Woensdagoggend begroet het.

“Ek versorg al die afgelope twee maande ’n ooi wat deur ’n jakkals gebyt is. ’n Stuk van haar lies en pensvel was weggeskeur, maar sy het vir haar lewe baklei en die jakkals(aanval) oorleef.”

Steenkamp sê sy was stomgeslaan en het gedink haar oë bedrieg haar toe sy by die kraal inloop en daar ’n lam by Ouma Anna staan.

“Ek het haar gaan dokter en vir haar kos en vars water geneem toe ek in die donker iets baie snaaks by haar sien. Ek het nader gegaan en kon nie glo wat ek sien nie. Sy het gelam en dis die mooiste ooilammertjie.”

Steenkamp het ’n groot liefde vir diere en het tydens die inperking ’n klein dierehospitaal agter haar huis begin, waar sy diere versorg om haarself besig te hou.

“Dit het ’n instelling geword. Ek versorg alles wat ek kan, van kuikens tot lammers.”

Ouma Anna is na haar gebring nadat ’n jakkals haar op die plaas Windheuwel van Attie Steenkamp toegetakel het.

“Ek wou nie hê dat hulle haar van kant maak nie en het gesê ek sal haar regdokter. Ek het nie besef hoe ernstig haar beserings was nie, maar ek het besluit om haar te help.”

Die skeur in Ouma Anna se lies en pensvel was tot by haar een speen.

Steenkamp het deurgedruk en die wond drie keer per dag skoongemaak om infeksies te voorkom.

“Daar was iets in haar oë. Asof sy vir my wou sê sy gaan nie ophou veg nie.”

Steenkamp sê sy het agtergekom die ooi begin skrop en dat sy ’n uier vorm.

Ouma Anna, die Dohne-Merino-ooi van Calvinia, het om haar lewe geveg vir haar ongebore lam. Luzanne Steenkamp het die foto Woensdag omstreeks 05:30 geneem toe sy die ooi gaan voer het. Sy het toe eers besef Ouma Anna was dragtig. Foto: Luzanne Steenkamp

“Maar ek weet níks van skape af nie,” sê sy laggend.

En toe verras Ouma Anna haar.

Nadat sy besef het dat die ooi gelam het, het sy met haar rug teen die heining in die kraal gaan sit en gehuil.

“Ek noem die ooilam Eva. Soos die eerste vrou.”

Sy is by die kraal weg en het by haar ma, Lucia Coetzee, aangegaan en vir haar gesê: “Ek dink ek het nou ’n ouma geword, en Ouma Anna het nou Mamma Anna geword.”

Sy lag te lekker en sê sy het nooit gedink Ouma Anna se storie sou so ’n sukses op sosiale media wees nie. Sy skryf dit daaraan toe dat die hele Suid-Afrika ’n bietjie hoop en lig in dié donker tye nodig het.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Lam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.