Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Dorsland se boervroue vrees hul mans pleeg selfdood
Berdien Vos (66), ‘n weduwee van Vanwyksvlei in die Noord-Kaap, het haar man, Kobus, anderhalf jaar gelede aan die dood afgestaan nadat hy homself om die lewe gebring het. Foto: Mlungisi Louw

Boervroue van die Dorsland in die Noord-Kaap, waar die droogte al ’n dekade woed, sluit hul mans se vuurwapens toe uit vrees dat hulle dalk selfdood kan pleeg.

Berdien Vos (66), ’n weduwee van Vanwyksvlei, het haar man, Kobus, anderhalf jaar gelede aan die dood afgestaan nadat hy homself om die lewe gebring het.

“Ek het dit gesien kom. En toe voorsorg getref om dit te keer deur die wapens toe te sluit. Maar hy het ’n wapen weggesteek.”

Sy het die skoot in die huis op die plaas Smousklok gehoor en yskoud geraak, want toe weet sy wat gebeur het.

“Kobus was ’n realis en hy kon net nie insien hoe die droogte beter sou raak nadat dit toe al nege jaar lank nog niks gereën het nie. Hy het toe sy eie lewe geneem.”

Vos sê sy het haar man geken en verstaan hoekom hy dit gedoen het.

“Ek glo hy het dit gedoen sodat ek my nou net oor een mond hoef te bekommer.”

Kobus se boedel is nog nie afgehandel nie en alhoewel haar kinders na haar omsien waar hulle kan, is sy hoofsaaklik van skenkings afhanklik. Sy het ná sy dood verkies om nie weer na die plaas terug te keer nie.

Shanie van der Merwe sê al hoe hulle as boervroue hier oorleef, is om humor in alles te soek en gereeld te probeer lag.

“Die belangrikste is om te verseker dat ons mans positief bly.”

Rudi Oberholzer, ’n boer en sakeman van Vanwyksvlei, sê 12 plase in dié distrik het in die afgelope vyf jaar hul hekke gesluit.

Die karkas van 'n skaap lê hier in die verdorde kaal aarde om Vanwyksvlei in die Noord-Kaapse Dorsland. Foto: Linkie Bessinger

In die goeie dae, soos Oberholzer daarna verwys, het hy 1 400 lammers per week bemark.

“As ek gelukkig is, bemark ek nou 700 lammers ’n maand.

“Die droogte het ons gedwing om met ’n derde van ons normale inkomste te oorleef. En die uitgawes het nie minder geraak omdat die inkomste nou minder is nie. Ons moet steeds ons huishoudings en vee met daardie derde onderhou.”

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê 70% van die provinsie ervaar nou die ergste droogte die afgelope 50 jaar. Dit is nie meer ’n droogte nie, maar ’n ramp.

Die rampgebied in die Noord-Kaap is groter as die hele Vrystaat.

Toe Dirk Sacco, Jan Moolman en Andrew Louw

op Dubbelvlei begin boer het, het hulle sowat 800 skape gehad. Nou het hulle skaars 100 oor.

“In 2007 het ons pryse gewen vir opkomende boere van die jaar, maar die ramp(droogte) het ons gebreek,” sê Sacco.

“Skuld is die grootste probleem, want al draai die droogte en dinge begin weer goed gaan op die plase, gaan dit steeds jare neem voordat ons van die skuld ontslae raak.”

Meer oor:  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.