Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Dragtige ietermago van gewisse dood gered
Mokolo met ’n gasmasker oor haar gesiggie. Foto: Welgevonden-natuurreservaat

In stede van een, spook veeartse nou om die lewe van twee ietermago’s te red nadat daar ontdek is ’n uitgeteerde ietermago wat in ’n vuil kattebak gevind is, is dragtig.

’n Gesamentlike poging deur die polisie en wildbewaarders van die Welgevonden-natuurreservaat in Limpopo het tot die redding van ’n ouerige ietermago op 4 Februarie gelei.

Volgens Kassie Knoetze, hoof van veiligheid by die reservaat, is hulle ingelig oor mense wat handel dryf in ietermago’s in die gebied en het hulle dit dadelik opgevolg.

Die Suid-Afrikaanse ietermago word as kwesbaar beskou en word in die sluikhandel na lande soos China uitgevoer waar dit om medisinale doeleindes geslag word.

Danksy flink werk deur die polisie en wildbewaarders kon Mokolo, soos die dragtige ietermago nou bekend staan, uit die kloue van twee vermeende stropers gered word.

Mokolo is naby die rivier met dieselfde naam gevind.

Volgens kol. Moatshe Ngoepe het die polisie ’n strik vir die verdagtes gestel en hulle by ’n vulstasie aangekeer.

Teen die tyd van haar redding was sy reeds sowat twee weke sonder kos of water. Sy is deur ’n veearts van Modimolle gestabiliseer en sterk tans aan by ’n dierehospitaal in Johannesburg.

Dié hospitaal spesialiseer in die behandeling en rehabilitasie van wilde diere, veral ietermago’s. Die doel is om die diere uiteindelik weer in die natuur vry te laat.

“Ons doen gewoonlik ’n sonar om te kyk vir inwendige skade en om seker te maak die dier is nie dragtig nie,” sê dr. Karin Lourens wat na Mokolo omsien.

“In hierdie geval was sy nou wél dragtig.”

Dr. Karin Lourens (regs) luister na Mokolo se hartklop, terwyl Nicci Wright, die hospitaal se senior natuurlewerehabilitasiespesialis en uitvoerende direkteur van die African Pangolin Working Group Mokolo se gasmasker vashou. Foto: Welgevonden-natuurreservaat

’n Ietermago kry net een kleintjie per jaar.

Volgens Ray Jansen, voorsitter van die African Pangolin Working Group, was Mokolo se maag ook vol wurms.

“Die dier is intussen ontwurm en sy is op ’n proteïenryke voedselaanvuller wat haar herstel sal aanhelp,” sê Jansen.

Die African Pangolin Working Group werk nou saam met Lourens en haar span.

Lourens sê hoewel Mokolo baie swak en verskriklik bang is vir mense, het sy Saterdag buite rondgestap.

Dit vorm deel van die hospitaal se rehabilitasieprogram.

Sondag het dit nog ’n bietjie beter met Mokolo gegaan en sy het verdere buisvoeding ontvang.

Mokolo moet elke slag gesedeer word en oopgerol word vir die voedingsproses.

Volgens Lourens moet sy sowat 2 kg optel.

“Sy kan darem nog oprol. As ’n ietermago nie meer kan oprol nie, is hy of sy feitlik dood.”

Die ietermago, Mokolo, in stropers se vuil kattebak. Foto: Welgevonden-wildreservaat

Sy glo Mokolo sal “oukei” wees.

Haar fetus se hartklop is net effens stadig omdat die ma vir so lank ondervoed en gedehidreer was, sê Lourens.

Sodra sy sterk genoeg is, sal hulle haar weer in die natuur vrylaat.

Ngoepe het bevestig die twee vermeende stropers sal Maandag weer in die hof op Modimolle verskyn en om borgtog aansoek doen. Madonsela Khumbulani en Manugo Gilbert Evan (albei 33) word aangekla van die onwettige jag en besit van beskermde wild.

ietermago
Die ietermago word met 'n buis gevoer.

Altesaam 400 000 ietermago’s is verlede jaar gestroop, aldus Lourens.

“As jy al die diere wat jaarliks gestroop word – die renosters, olifante, almal – bymekaar tel, kom dit nog nie naby die getal ietermago’s wat jaarliks gestroop word

nie.”

Lourens sê die ietermago se skubbe is so sterk dat ’n volwasse leeu nie eens daardeur kan byt nie.

“Vir 80 miljoen jaar al lewe hierdie dier sonder ’n natuurlike roofdier wat hom jag. Nou is dit die mens wat hom uitroei,” sê sy.

As die tempo van stropery voortduur, sal die betrokke spesie binne ’n dekade uitsterf.

Meer oor:  Modimolle  |  Ietermago  |  Wildbedryf  |  Stropers  |  Wildbewaring  |  Stropery  |  Jag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.