Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Drinkwater kan min raak, ondanks vloede – kenner
Elbe Meyer Maandag in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin. Foto: Verskaf

Watersuiweringsaanlegte is te naby aan riviere gebou en ’n kenner sê vloede in somerreënvalstreke kan daartoe lei dat mense binnekort sonder drinkwater sit.

Gideon Groenewald, ’n geoloog van Gift of the Givers, sê die land kan uitermatige reënval tot April verwag en dat dit ’n “nat jaar vir somerreënvalstreke in Suid-Afrika gaan wees”.

Die land het reeds die eerste tekens hiervan gesien nadat Eloise, aanvanklik ’n tropiese sikloon, die naweek vir Mosambiek getref het en toe oor Suid-Afrika en Botswana beweeg het.

Twee mense is onderskeidelik in KwaZulu-Natal en Mpumalanga dood, minstens nege is beseer en meer as 1 000 mense is in dié provinsies en in Limpopo dakloos gelaat.

Die Cascades-waterval in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin soos dit lanklaas gesien is. Foto: Brandon Britz/ Walk in Light Photography

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê die regering is besig met hulpverlening aan alle gesinne en huishoudings wat deur die ramp getref is.

Afgesien van die reën wat veroorsaak word deur oormatige vog weens Eloise se invloed, verduidelik Groenewald dat Suid-Afrika weens La Niña somerreënvalsyfers van tussen 1 000 mm en 1 200 mm kan aanteken.

La Niña is ’n weerverskynsel waarin die strome van die Indiese Oseaan weens sterk winde afkoel en heelwat reën gepaardgaan met die kouer lug wat oor die land inbeweeg.

Groenewald sê hy is bekommerd oor huise en veral watersuiweringsaanlegte wat naby aan riviere en damme gebou is.

“Mense jonger as 40 sal sê hulle het nog nooit so iets gesien nie, en daar is nie regtig geluister toe mense gewaarsku is om nie so naby aan riviere te bou nie.

Die Cascades-waterval in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin soos dit lanklaas gesien is. Foto: Brandon Britz/ Walk in Light Photography

“Watersuiweringsaanlegte is ook te naby aan riviere gebou en as die rivier in vloed is, sal dit die aanlegte ook verspoel en ons kan sonder drinkwater sit.”

Groenewald verduidelik dat aardverwarming hier ook ’n rol speel.

“Die seeoppervlak het reeds gestyg weens die ys in Antarktika wat smelt. Seewater stoot in riviermondings op wat dan, as die rivier in vloed afkom, tot oorstromings lei.”

Groenewald voorspel die Oranjerivier kan, volgens studies, tydens hierdie nat siklus tot soveel as 23 m bo sy normale vlak styg. In Mpumalanga en Limpopo kan modderstortings en ontworteling van bome verwag word weens ’n oormaat reën.

’n Rivier in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin. Foto: Brandon Britz/ Walk in Light Photography

Groenewald sê La Niña kan moontlik kortstondig wees en dat daar dan weer van 2022 af El Niño-klimaatstoestande kan heers, met die gepaardgaande laer reënval.

William Msimanga, ’n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het bevestig dat die land tans in ’n La Niña-tydperk is.

Hy sê weens die vog van Eloise wat van Botswana na Suid-Afrika beweeg, sowel as die invloed van La Niña, kan veral die noordelike dele van die land minstens tot Maandag reën verwag.

Volgens Msimanga sal Eloise egter nie vinnig uitsterf soos aanvanklik voorspel is nie, maar eerder teen Woensdag deur Botswana in die rigting van Namibië beweeg.

Skade en skouspel in provinsies

Verteenwoordigers van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal het Dinsdag die mediakonferensie saam met die minister bygewoon.

Sipho Hlomuka, KwaZulu-Natal se LUR vir Cogta, het gesê ’n 14-jarige seun se lyk is Maandag in ’n rivier in die AbaQulusi- munisipale gebied gevind.

Nog twee seuns, wat beseer is toe hulle deur die rivier meegesleur is, is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Volgens hom is 916 mense sonder ’n heenkome gelaat.

Sam Ngubane, Mpumalanga se departementshoof van Cogta, het op die mediakonferensie gesê ’n vyfjarige seun se lyk is Maandag in Masoyi, sowat 13 km van Hazyview, gevind nadat hy deur ’n rivier meegesleur is.

Besoekers (links) lyk klein teen die Cascades-waterval wat sedert die naweek se storms in vloed is. Foto: Brandon Britz/ Walk in Light Photography

Volgens hom word twee mense ook in die omgewing van Thaba Chweu en Pelgrimsrus in Mpumalanga vermis en reddingspanne is besig om na hulle te soek.

Ngubane sê sewe ander mense is ook beseer en meer as 70 huise in die provinsie is verwoes.

Intussen is inwoners in Mpumalanga ook in hul noppies met watervalle in die gebied waarvan die water lanklaas so sterk gevloei het.

Elbe Meyer, ’n inwoner van Mbombela, het Maandag die Cascades-waterval by die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin besoek.

“Dit was ’n absolute belewenis om die rivier so in vloed te sien. Dis die eerste keer in my lewe dat ek dit so sien. Dit was een van die opwindendste dae van my lewe en ek was papnat gereën.

“Dit was selfs intimiderend om oor daardie bruggie te loop en om voor die bruisende massas water te staan,” sê Meyer.

Dit was ’n absolute belewenis om die rivier so in vloed te sien. Dis die eerste keer in my lewe dat ek dit so sien. Dit was een van die opwindendste dae van my lewe en ek was papnat gereën.

Craig Allenby, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), sê 110 mm reën het reeds in die botaniese tuin geval.

“Ons monitor die rivier se hoogte sodat, indien dit nodig is, ons werknemers en besoekers kan verwyder,” sê Allenby.

Heleen Boshoff, ’n inwoner van Mbombela, het die reën verwelkom en sê die dorp het al veel erger storms beleef.

Marietie Louw-Carstens berig Basikopo Makamu, LUR vir samewerkende regering in Limpopo, gaan Woensdag die Tshakhuma-gebied buite Louis Trichardt besoek, waar talle huise die naweek deur swaar reën beskadig is.

Hy het in ’n verklaring gesê daar is 29 huise in Tshakhuma wat beskadig is. Nog ’n huis is in Mbaleni en een huis is in Makonde in die Thohoyandou-gebied verwoes. Witness Tiva, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling in Limpopo, sê 37 gesinne is in die Vhembe-, sowel as in die Mopani-distrik, dakloos gelaat nadat swaar reën sedert Saterdag in die verre noordoostelike deel van Limpopo uitsak.

Mense wat langs die Nandoni-dam buite Thohoyandou bly, het Sondag groot geskrik toe ’n krokodil uit die dam in die nabygeleë veld gespoel het. Mbavhi Maliage, ’n meteoroloog wat by die SAUK werk, het ’n video op haar Facebook-blad geplaas wat ’n inwoner aan haar gestuur het van ’n krokodil wat in gras langs die Nandoni-dam gesien kan word.

• Netwerk24 het navraag oor die wateraanlegte by die departement van water en sanitasie en Cogta gedoen en die antwoorde sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.