Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Eerste sneeu val in Klein-Karoo ná kouefront

Nog reën word Vrydagaand oor die Suidwes-Kaap verwag en Saterdag oor groot dele van die Wes- en die Oos-Kaap.

Sommige bergpieke by Ceres en Oudtshoorn was teen Donderdagoggend met sneeu bedek nadat ’n kouefront die vorige aand oor die Wes-Kaap beweeg het.

Die Matroosberg-reservaat buite Ceres het vir die tweede keer vanjaar sneeu op die berg gehad. Die eerste sneeu het op 21 Mei geval. Nog sneeuval word teen Saterdag verwag.

Sneeuval is die oggend ook vir die eerste keer vanjaar opgemerk in die Swartbergpas buite Oudtshoorn in die Klein-Karoo.

Sneeu het dele van die Swartberg buite Oudtshoorn Donderdagoggend bedek nadat ’n kouefront die Wes-Kaap die vorige aand getref het. Foto: Anso Nel

Didi de Kock, mede-eienaar van die Matroosberg-reservaat, het Donderdagoggend op die reservaat se Facebook-blad geskryf haar man het Woensdagmiddag pakke ys wat hy gekoop het in sy motor vergeet.

Hy het dit eers Donderdagoggend besef.

Sy het ’n foto daarby geplaas van die pakke ys wat glad nie gesmelt het nie.

“Baie mense vra – hoe koud word dit by Matroosberg? Wel, hierdie is ’n eenvoudige voorbeeld . . . Daar is geen teken dat die ys gesmelt het nie, al lê dit sedert omstreeks 16:00 gister daar. Wat kan ek sê? As jy iets hier rond wil ontdooi, moet jy dit in die yskas sit.”

Die pieke van die Swartberg in die Klein-Karoo is Donderdag met sneeu bedek nadat ’n kouefront yskoue weer en reën oor die Wes-Kaap veroorsaak het. Foto: Anso Nel

Kaapstad se rampbestuursentrum het Woensdag 21:00 gesê 700 huise in informele nedersettings in Khayelitsha, die Strand, Gugulethu en Crossroads is Dinsdag oorstroom.

Charlotte Powell, woordvoerder van die rampbestuursentrum, sê plastiekseile is verskaf om lekkende dakke te herstel en blyplekke te beveilig.

Teen Donderdagoggend is net enkele klagtes oor oorstromings ná die vorige aand ontvang.

Met Dinsdagaand se kouefront is oorstromings in groot dele van die Kaapse Vlakte aangemeld, insluitend in Manenberg, waar die kanaal langs Silverstreamweg oorstroom is en talle huise in die omliggende buurt geraak is.

Die metro se afdeling vir paaie en infrastruktuur het die stormwaterstelsels in Gugulethu en Mitchells Plain Woensdagmiddag nog opgeruim.

Die Matroosberg buite Ceres is Donderdagoggend met sneeu bestrooi ná die koms van die kouefront die vorige aand. Nog sneeu word Saterdag verwag. Foto: Matroosberg Reservaat

Teen Donderdag 08:00 is meer as 20 mm reën in die voorafgaande 24 uur gemeet in Elim (33 mm), Jonkershoek (27 mm), Kirstenbosch, Atlantis en Ceres (22 mm) en Grabouw (21 mm).

Meer as 10 mm is gemeet in Bellville (19 mm), Franschhoek (16 mm), by die Molteno-reservoir in Kaapstad en die Paarl (14 mm), Wellington (13 mm), Villiersdorp (12 mm) en Tulbagh (11 mm).

In Observatory, Kaapstad is 10 mm aangeteken, en 9 mm in Riversdal, 8 mm in Swellendam, 7 mm in George en 6 mm in Malmesbury, Oudtshoorn en die Strand.

5 mm en minder het uitgesak in Plettenbergbaai, Porterville en Struisbaai (5 mm), Worcester en Kaap Agulhas (4 mm), Knysna en Stilbaai (3 mm), Lambertsbaai en Prins Albert (2 mm) en Mosselbaai en Ladismith (1 mm).

Inwoners in die omgewing van Oudtshoorn is Donderdagoggend begroet met sneeu op die Swartberg nadat ’n kouefront die vorige aand oor die Wes-Kaap beweeg het. Foto: Anso Nel

Vrydag is daar ’n 30%-kans op reën die aand in Kaapstad, die Paarl, Malmesbury, Hermanus, Grabouw en Kaap Agulhas, terwyl ’n noordwestewind van 30 km/h tot 40 km/h verwag word.

Sneeu het Donderdag in die Swartbergpas naby Oudtshoorn gelê.Foto: Anso Nel

Maksimum temperature van 20 °C en laer word vir die grootste dele van die Wes- en die Oos-Kaap voorspel.

Teen Saterdag is daar ook ’n 30%-kans op reën die oggend in Kaapstad, die Paarl, Hermanus, Grabouw, Kaap Agulhas, Riversdal, Mosselbaai en George.

In Plettenbergbaai is daar ’n 30%-kans op reënbuie deur die dag.

Maksimum temperature van rondom 20 °C word in die Wes-Kaap verwag, met effens warmer weer aan die Weskus.

In die Oos-Kaap is daar ’n 30%-kans op reënbuie in die grootste deel van die provinsie en maksimum temperature van tussen 20 °C en 25 °C word verwag.

Teen Sondag en Maandag word koel tot matige weer voorspel, met sonskyn in die Oos-Kaap en bewolkte tot gedeeltelik bewolkte weer Maandag in die Wes-Kaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.