Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Eienaars hoes ná pakhuis brand

Die eienaars van ’n pakhuis vol chemikalieë wat aan die brand gesteek is, waarna grootskaalse omgewingskade aangerig is, sal moet opdok vir die opruiming en kan moontlik vervolg word.

Lede van die gesamentlike operasionele komitee (GOK), wat gevorm is om die omgewingsramp op te ruim, het besluit United­ Phosphorus Limited (UPL) sal ’n rekening kry vir die opruimingskoste wat die eThekwini-munisipaliteit aangegaan het nadat sy pakhuis in Cornubia ten tyde van die onluste twee weke gelede aan die brand gesteek is.

Duisende visse, seevoëls en ander mariene diere is dood toe giftige chemikalieë wat in die pakhuis geberg is, in die Umhlangarivier, die strandmeer en die see beland het.

Sphume Nowele, hoofdirekteur van omgewingsbestuur in KwaZulu-Natal se departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, sê dit is ’n beginsel wat opgeneem is in die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) dat die besoedelaar moet betaal.

Voordat plunderaars UPL op Dinsdag 13 Julie met petrolbomme bestook het, het hulle eers “ ’n hoeveelheid chemikalieë gesteel”. Dit is onduidelik watter soort chemikalieë gesteel is.

Die owerhede dring derhalwe nou by UPL aan op ’n lys van die 1 600 soorte chemikalieë wat hy by dié geriewe geberg het.

Luidens ’n verklaring van die GOK wil dit voorkom asof UPL nie al die nodige omgewingspermitte het om so ’n nywerheidsgerief in Cornubia te bedryf nie.

UPL het ook glo nie ’n permit om in dié chemikalieë handel te dryf nie. Cornubia is wel ’n soort nywerheidspark, maar op die agterstoep van verskeie woonbuurte en ’n ekologies sensitiewe kus-ekostelsel.

Die GOK, wat bestaan uit epidemioloë, luggehaltekundiges, gifkenners, waterkundiges en wetstoepassers, sê in die verklaring dit is noodsaaklik dat UPL “saam met die owerheid werk om die omgewingsramp te bestuur sodat opruiming behoorlik gedoen kan word”.

Die owerheid vereis voorts van UPL om lugmonsters wat geneem is, te laat toets. Van die toetse moet oorsee gedoen word, dus sal die uitslag nie binnekort beskikbaar wees nie.

Aanvanklike toetse het gewys die aantal stofdeeltjies wat ten tyde van die brand vrygestel is, is drie keer hoër as die Wêreldgesondheidsorganisasie se toelaatbare perk.

Nowele sê as UPL nie sy samewerking gee nie, kan die maatskappy strafregtelik vervolg word.

Sy sê brandweerlede van eThekwini kon om verskeie redes nie dadelik toegang tot die brandende pakhuis verkry nie. “Later moes hulle baie water gebruik om die vlamme te probeer blus. Dié besoedelde water het toe in die Umhlangarivier, die strandmeer en die see beland.”

Volgens Nowele het die brandweerpersoneel nie besef hulle moes ’n brand blus waar giftige chemikalieë geberg word nie.

“Hulle het daarom nie . . . beskermende klere gedra nie.”

Alle betrokkenes het mediese toetse ondergaan en dit lyk nie of enigiemand se gesondheid benadeel is nie, sê Nowele.

Twee maatskappye wat aangestel is om die gebied skoon te maak, is steeds besig. Hulle het reeds “tonne besoedelde grond en seesand opgesuig”.

UPL sê hy sal later op navrae reageer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.