Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Einde van hittegolf dalk in sig met reën op pad
Hanno van Rensburg vat ’n groot sluk uit sy vol reënmeter op Cosmopolite, sy plaas naby Baltimore in Limpopo. Foto: Bardina van Rensburg/Instagram

Die versengende hitte in groot dele van die land is dalk binnekort iets van die verlede met welkome reën wat voorspel word.

Musa Mkhwanazi, ’n senior wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens (SANW) in Pretoria, sê die kanse op hittegolftoestande sal vir die res van die somer skraler wees omdat die reënvalsyfer na verwagting hoër as verlede jaar sal wees.

“Ietwat hoër reënvalsyfers vir die res van die somer en herfs word in die oostelike helfte van Suid-Afrika, insluitend dele van KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng, verwag. Die oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat kan ook reën verwag.”

Kgolofelo Mahlangu, ook van die weerdiens, sê die huidige hittegolf sal net tot laat Woensdag duur.

“Die sentrale dele van die Vrystaat en Noordwes kan laat Woensdag reën verwag,” sê sy.

Die hitte sal Woensdag egter ’n hoogtepunt bereik, met maksimum temperature van diep in die 30 oor groot dele van die binneland.

Johan Coetzee het dié donkies afgeneem op Van Zylsrus in die Noord-Kaap. Hy sê sy termometer het Dinsdag tot 45 °C gestyg. Foto: Reënval in SA/FACEBOOK

Die SANW het Dinsdag drie rekord- minimum temperature aangemeld. By Van Reenen in KwaZulu-Natal is die hoogste minimum temperatuur sedert 1995 aangeteken. Op 27 Januarie 1995 was dit 17,9 °C en Dinsdag is 18,4 °C gemeet.

Inwoners van Vrede in die Vrystaat het ook die hoogste minimum temperatuur in 25 jaar van 18,9 °C ondervind. Tzaneen in Limpopo se 23,6 °C was ook die hoogste minimum temperatuur sedert 30 Januarie 2014, toe 21,4 °C aangeteken is.

Die drukkende hitte is weens die voortslepende dalende oorhoofse lugvloei van ’n hoëdrukstelsel, wat uiters droë toestande meebring, sê Mkhwanazi.

Die kus word gevolglik verhit. “Warmer see-oppervlak-temperature het weer heftiger donderstorms tot gevolg,” sê hy.

Boere en inwoners van dorpe soos Van Zylsrus in die Noord-Kaap moes Dinsdag ’n plan maak toe die kwik laatoggend reeds by die 34 °C gedraai het.

Teen middagete was dit reeds hoër as 40 °C.

Frans Cloete, ’n skaapboer van die plaas Hadida buite Van Zylsrus, sê dit is byna onmoontlik om bedags ná 11:00 met die diere te werk.

“Jy moet maar vroeg wikkel om by alles uit te kom en dan binne bly.”

Hy sê dit is nie vreemd dat die kwik in Januarie en Februarie so hoog styg nie.

Op Van Zylrus was die kwik Dinsdag om 16:00 nog bo 40 °C. Foto: Hanelie van Tonder

“Maar gewoonlik kry ons reën die vorige November wat dit darem makliker maak. Die grond is dor, want die laaste drie tot ses jaar het ons nie daardie reën gekry nie, so die trek na die winter is lank.”

As die temperatuur nie afkoel na onder 20 °C nie, herstel die beeste nie.

Op Kimberley was die maksimum temperatuur 39 °C.

Nog ’n dorp wat gebuk gaan onder uiterste hitte is Upington, waar die kwik ook die 40 °C gestyg het. Dit het glo verlede Maart laas in dié streek gereën.

Die SANW het Dinsdag gewaarsku dat uiterse brandgevaartoestande in die Noord-Kaap en die westelike dele van Noordwes en die Vrystaat verwag word.

Mahlangu kon nie met sekerheid sê of die hittegolf teen die naweek heeltemal iets van die verlede sal wees nie.

* Die Noord-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming doen ’n beroep op boere om te waak teen veldbrande.

Boere en landbouers word aangeraai om die munisipaliteit en die brandweerdiens te kontak en om veldbrande by die volgende nommers aan te meld: 10177 of 08 600 10111.

Meer oor:  Sanw  |  Weervoorspelling  |  Hittegolf  |  Weerdiens  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.