Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Eksotiese voëls glo uit dieretuin in Bloemfontein gesteel
Voorbeelde van hoe die ara-papegaaie lyk.Foto: Encyclopedia Britannica

Daar is glo ’n slang in die gras by die Bloemfonteinse dieretuin waar meer as R300 000 se eksotiese voëls na bewering oornag spoorloos uit hokke verdwyn het.

Slotte aan die hokke het ook glo saam met die geveerdes verdwyn.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het by navraag die gerugte bevestig dat Reinet Meyer, senior inspekteur van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (BDBV), op Sondag 15 Maart ’n klag van veediefstal (eksotiese voëls) by die Parkweg-polisiekantoor ingedien het.

18 voëls, soos ara-papegaaie, Kaapse papegaaie, African Greys en nog ander papegaaie, asook fisante, waarvoor permitte nodig as dit verskuif moet word, is glo weg, sê Mbambo.

Sy sê volgens Meyer is die voëls gesteel.

“Die voëls is sowat R300 000 werd,” sê sy.

Mbambo sê ingevolge wetgewing moet enigiemand wat die eksotiese diere besit of wil verskuif, permitte hê omdat dit geklassifiseerde spesies is, wat beteken hulle is bedreigde voëls.

Sy sê die ondersoek in die saak duur voort.

Maar Nozi Nkoe, waarnemende direkteur-generaal van die departement ekonomiese sake, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), wat die Bloemfonteinse dieretuin namens haar departement gesluit het, sê sy vermoed die personeel van die Mangaung-metro het die hekke van die hokke oopgemaak sodat die voëls kon wegvlieg.

“Dit is soos wat ek dit verstaan het.”

Mbambo sê enigiemand wat die polisie met inligting kan help, word gevra om die ondersoekbeampte, ao. Stefan Grobbelaar van die veediefstal-eenheid, by 072 434 3356 te bel.

Netwerk24 verneem permitte is nodig om diere soos die renosters te verskuif.

Om die 11 buffels wat nog in die dieretuin onder kwarantyn staan te verskuif, moet ook permitte verkry word omdat hulle “protokol-diere” is, sê Meyer.

André Schlemmer, hoof-natuurbewaarder by Destea wat permitte uitreik, was nie beskikbaar vir navrae om te hoor of permitte uitgereik is om die voëls te verskuif nie.

Hy is glo siek.

Personeel van die Bloemfonteinse dieretuin wat anoniem wil bly, sê die polisie, wat by die dieretuin na videomateriaal gekyk het, het hulle ondervra.

Hulle weet die polisie het ook gesukkel om vir Schlemmer in die hande te kry.

Lukas Tsoku, kurator van die gesogte voëlsoorte by die dieretuin, is ook siek en nie vir navrae beskikbaar nie.

Rudie Vertie, die kurator van die omnivore, kon ook nie sê waarheen die voëls skielik verdwyn het nie, word betroubaar verneem.

Volgens Meyer het sy die voëls nog die vorige dag tussen 16:00 en 17:00 kosgegee en die volgende dag was die voëls en die slotte aan die hokke net weg.

Nkoe bevestig dit en sê hulle was die vorige dag daar en die volgende dag weg.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Eksotiese Voëls  |  Dieretuin  |  Gesteel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.