Vyf elande (Taurotragus oryx) is Woensdag op die Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes vrygelaat as deel van ’n navorsingsprojek om die ekostelsel se diversiteit ’n hupstoot te gee.
Die vyf – Mike, Gibbs, Berni, Uniqua en Little P – se vrylating is deel van die Gantouw-projek se jongste fase. Die elande was die afgelope vyf jaar deel van ’n navorsingsprojek wat hul historiese migrasie naboots. Die elande word op ’n natuurlike wyse ingespan om die ekostelsel se diversiteit te verhoog.

Die elande verlaat Woensdag die boma in die kamp op die Vergelegen-wynlandgoed. Foto: Verskaf
Die projek van die Cape Town Environmental Education Trust (CTEET), ’n organisasie sonder winsbejag, is voorheen op die duinestrandveld op die Kaapse Vlakte aangepak en het nou na die renosterveld op Vergelegen verskuif. Die projek is sedert 2015 aan die gang, luidens ’n verklaring.
Volgens dr. Anthony Roberts, uitvoerende hoof van die CTEET, beteken “Gantouw” (’n Khoi-woord) “die manier van die eland”.
“Dit verwys na ’n pad wat die elande oor baie jare heen uitgekerf het soos wat hulle heen en weer vanaf die Kaapse Vlakte oor die Hottentots-Holland-berge migreer het,” sê hy.

Die elande in die veld Foto: Verskaf
Volgens hom het verstedeliking gefragmenteerde ekostelsels veroorsaak, waarvan baie in duie stort.
Deur elande in die veld vry te laat, word bosindringing voorkom, en begin die kenmerkende diversiteit van die veld terugkeer. Die ekostelsel werk ook meer doeltreffend.

Die elande kort nadat hulle vrygelaat is. Foto: Verskaf
Die elande se impak op die veld sal met die hulp van hommeltuie gemonitor word, asook met opnames oor diere en plantegroei. Die opnames sal die diere se gekose weiding aandui, die impak op fauna en flora en die veld se dra-kapasiteit. Daar is drie elandkoeie en twee gekastreerde bulle wat van die Elandberg in Wellington kom. Die projek sal vyf jaar duur en dan weer hersien word.

Een van die elande van naderby gesien. Foto: Verskaf
Vergelegen het ’n kamp van 10 ha groot voorsien. Die CTEET het ’n boma in die kamp as skuiling vir die elande opgerig. Die landgoed se bestuur sal die elande se gesondheid monitor. Die CTEET sal navorsing doen, die ekologie deurlopend monitor en ’n jaarverslag indien.
In die projek se eerste fase is gekonsentreer op die Kaapse Vlakte-duinestrandveld wat slegs in Kaapstad se laaglande voorkom. Op Vergelegen beslaan die elande se weiding verskeie spesies fynbos, soos renosterbos.

Die elande begin weiplek soek. Foto: Verskaf

Die elande is tuis in hul nuwe blyplek in ’n kamp op die Vergelegen-wynlandgoed. Foto: Verskaf

Wayne Coetzer, besturende direkteur van die Vergelegen-wynlandgoed Foto: Verskaf

Dr. Anthony Roberts, uitvoerende hoof van die Cape Town Environmental Education Trust (CTEET), staan buite die boma in die kamp vir die elande op die Vergelegen-wynlandgoed. Foto: Verskaf

Leslie Naidoo, bestuurder van die Vergelegen-landgoed Foto: Verskaf
Baie van Vergelegen se oorspronklike plantegroei het herleef sedert die bestuur die grootste projek (wat privaat befonds is) in Suid-Afrika begin het om indringerplante uit te roei.
Volgens Wayne Coetzer, besturende direkteur van Vergelegen, is die projek in 2018 voltooi en 2 200 ha fynbos is herstel.
Die navorsing oor die elande maak deel uit van die doktorale tesis van Petro Botha, ’n ekoloog en bestuurder van die Gantouw-projek.
Vergelegen was in die verlede al talle plaaslike en oorsese universiteite met studies behulpsaam. Die projek word geborg deur Quemic, ’n maatskappy wat onder meer met risikobestuur gemoeid is.