Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Eloise bring swaar reën, talle paaie in Limpopo en Mpumalanga gesluit
Die 71-pad in Magoebaskloof in Limpopo is Sondag vir verkeer gesluit. Foto: LIMPOPO NOODDIENSTE

Verskeie paaie veral in die Laeveld van Limpopo en Mpumalanga is Sondag weens swaar reën vir verkeer gesluit.

Op die R71-pad in Magoebaskloof het ’n boom Sondagoggend omgewaai en die pad versper.

Rampbestuurspanne is ontplooi om die versperrings uit die pad te verwyder.

Matome Moremi Taueatsoala, woordvoerder van die departement van vervoer in Limpopo, het gesê die R528-pad in George's Valley tussen Polokwane en Tzaneen is ook onder water.

Wydverspreide reën kom sedert Saterdagaand in Limpopo en Mpumalanga voor weens die tropiese sikloon Eloise wat Sondagoggend tot ’n laagdrukstelsel afgegradeer is.

Reën val sedert Saterdagmiddag ook in Hoedspruit in Limpopo en swaar reën het sedert vroeg Sondagoggend in Polokwane uitgesak. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is daar teen Sondagmiddag 56 mm reën in Hoedspruit gemeet.

Sowat 30 mm reën is in Polokwane gemeet. Die stad gaan gebuk onder erge watertekorte omdat die Ebenezerdam in Haenertsburg, wat een van die stad se waterbronne is, slegs 24% vol is.

In Mpumalanga is die uitsighysbak by die Graskopravyn tot ten minste Dinsdag gesluit ná swaar reën hier uitgesak het.

Kyk hier na die video. 

'n Pad in George’s Valley in Limpopo was Sondag onder water. Foto: VERSKAF

In Nelspruit is meer as 70 mm reën Sondag gemeet.

In die noorde van die Krugerwildtuin is verskeie grondpaaie in Punda Maria-kamp sowel as die Shingwedzi-kamp verspoel.

Die Mapungubwe Nasionale Park en wêrelderfenisterrein is as ’n voorkomende maatreël vir besoekers gesluit.

Teen Sondagmiddag is daar al 80 mm reën in die park gemeet. “Hier is geen vloed nie,” het ’n amptenaar wat nie genoem wil word nie, gesê.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Sondag video’s op sy Twitter-blad gedeel van bruisende riviere in die Vhembe-distrik in Limpopo. Dit is veral Levubu (76 mm reën) en die Thohoyandou-gebied (63 mm reën) wat goeie reënneerslae het.

Die weerdiens voorspel nog swaar reën en sterk wind vir die res van Sondag en Maandag in Musina, Thohoyandou, Louis Trichardt, Malamulele, Giyani sowel as in Phalaborwa en Polokwane.

Die provinsiale rampbestuursentrum in Limpopo is egter op ’n gereedheidsgrondslag omdat wydverspreide reën vir vier distrikte – Vhembe, Capricorn, Sekhukhune-en-Mopani – verwag word.

Basikopo Makamu, LUR vir samewerkende regering in Limpopo, het mense in veral landelike gebiede gemaan om nie riviere te probeer oorsteek nie en in hul huise te bly.

Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het in ’n verklaring gesê hulle werk nou saam met rampbestuurspanne indien mense hulle huise verloor.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Limpopo  |  Swaar Reën  |  Vloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.