Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
'Ergste krisis van ons tyd’ – VN

Die Covid-19-pandemie het “binne ’n oogwink” die ernstigste humanitêre en ekonomiese krisis van “ons leeftyd” geword.

Die pandemie gaan binnekort ’n bykomende 71 miljoen mense in “uiterste armoede laat verval”.

So lui ’n uittreksel uit die Verenigde Nasies (VN) se jongste verslag oor sy 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling, wat 15 jaar gelede opgestel is om onder meer armoede en honger teen 2030 uit te wis.

’n Groep kinders speel vandeesweek voor ’n muurskildery in Soweto wat die voorkoming van Covid-19 aanmoedig. Luidens die Verenigde Nasies (VN) se jongste verslag oor sy 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling is Covid-19 “die ergste humanitêre en ekonomiese krisis van ons leeftyd”.Foto: AP

Luidens die verslag was die meeste van die doelwitte reeds teen die einde van verlede jaar van koers af. Die Covid-19-pandemie het nou ’n “ongeëwenaarde krisis” ontlont.

Luidens die volhoubareontwikkelingsdoelwitverslagSustainable Development Goals Report vir vanjaar is daar onder meer op die gebied van kindergesondheid, asook die gesondheid van swanger vroue vordering gemaak. Daar is ook vordering gemaak met die verspreiding van elektrisiteit en vroue se verteenwoordiging in regeringskringe.

“Maar selfs dié vooruitgang word verdwerg deur groeiende voedselonsekerheid, die agteruitgang van die natuurlike omgewing en die ongelykhede in samelewings.

“Nou het Covid-19 die ergste humanitêre en ekonomiese krisis van ons leeftyd geword met 500 000 mense wêreldwyd wat reeds dood is en 10 miljoen wat met die virus besmet is.”

Antònio Guterres, VN-sekretaris-generaal, sê Covid-19 beïnvloed mense se lewe op verskeie maniere wat die ongelykheid in samelewings beklemtoon.

Die mense wat die ergste deur die pandemie geraak word, is die armstes en die kwesbaarstes in die wêreld. Dit is kinders, bejaardes, gestremdes, vlugtelinge en migrante.

Van die sleutelbevindings in die verslag lui:

  • 71 miljoen mense, wat tot onlangs nog ’n inkomste gehad het, gaan weens toenemende werkloosheid in uiterste armoede verval.
  • Meer as 1 miljard inwoners van krotbuurte kan binnekort met Covid19 besmet word. Dít is dié mense wat in oorvol taxi’s ry, in krotte woon waar geen lopende water is nie en geen afval verwyder word nie.
  • Die feit dat skole gesluit het, het 90% kinders, dit is sowat 1,57 miljard, tuis laat bly. 370 miljoen wat van voedingskemas by skole afhanklik is, ly nou honger.
  • Soos wat meer gesinne in uiterste armoede verval, word al hoe meer kinders slagoffers van kinderarbeid, kinderhuwelike en mensehandel.

Aarde kwyn, meer ly honger

Die verslag beklemtoon ook die feit dat klimaatsverandering baie vinniger plaasvind as wat aanvanklik gemeen is. 2019 was die tweede warmste jaar sedert 2010. Intussen is die oseaan besig om vinniger te versuur en die agteruitgang in grondkwaliteit is besig om te versnel.

Liu Zhenmin, die VN se adjunk-sekretaris-generaal vir sosiale en ekonomiese sake, het gesê lande sal dringend moet hande vat om ’n beter wêreld na Covid19 te skep. “Ons gesamentlike reaksie op die pandemie, behoort ’n oefening te wees in ons pogings om ’n groter krisis- klimaatsverandering- te stuit nie.

Volgens dié program was 690 miljoen mense in 2019 kronies honger. Dít is 10 miljoen mense meer as die vorige jaar en byna 60 miljoen meer as vyf jaar gelede.

Buiten dat nog 71 miljoen mense vanjaar in uiterste armoede gaan verval, is die voorspelling dat 130 miljoen mense teen die einde van vanjaar- weens Covid19- honger gaan ly.

Die mense wat die meeste honger ly, woon in Asië met 381 miljoen en in Afrika met 250 miljoen.

Die FAO sê 191 miljoen kinders in die wêreld, onder die ouderdom van vyf, is verstandelik gestrem omdat hulle ondervoed is.

Die FAO het ’n beroep op regeringshoofde gedoen om landbou en die produksie van voedsame kos hoog op hul agenda te plaas.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.