Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
KYK: Flaminkkuikens op pad terug

Sowat 130 kleinflaminkkuikens wat vroeër vanjaar van die verdorde Kamfersdam in Kimberley gered en elders in die land met die hand grootgemaak is, het Woensdag per vliegtuig van Durban en Pretoria na Kimberley teruggekeer.

Van die 800 kuikens wat elders grootgemaak is, sal in die volgende weke na Kimberley gevlieg word en hulle by die ander kuikens aansluit.

Dr. Doug Harebottle, dierkundige van die Sol Plaatje-Universiteit, en Marcie Herry, voëlkenner van die Dallas-dieretuin in Amerika, ring ’n flaminkkuiken. Foto: Charné Kemp

Die kuikens is einde Januarie en in Februarie gered nadat hul ouers hul neste verlaat het weens die lang droogte en gebrek aan water.

Die dam het intussen voller geloop nadat Kimberley mildelike reën gehad en Kimberley Ekapa Mining (KEM) die Sol Plaatje-munisipaliteit gehelp het om meer gesuiwerde rioolwater in die dam te pomp.

Die private ondersoeker Mike Bolhuis, wat eerste was om saam met die Saam Staan Kimberley-groep ’n reddingspoging te koördineer om die kuikens te red, het Woensdag gesê hy is reg om nou sowat 180 kleinflaminkies wat by sy kleinhoewe buite Pretoria deur vrywilligers versorg word, na Kimberley terug te stuur.

“My voëls is nou reg om te gaan. Ek was aanvanklik baie bekommerd om hulle te laat gaan en wou nie oorhaastig optree nie,’’ het Bolhuis gesê.

flaminkw
Volwasse flaminke met wilde kuikens Woensdag op Kamfersdam. Foto: Charné Kemp

Volgens dr. Katja Koeppel, wildveearts van Onderstepoort, gaan al die kuikens wat die reddingspoging in Januarie oorleef het, stelselmatig binne die volgende weke op Kamfersdam naby die 5 000 wilde kuikens vrygelaat word.

“Kimberley Ekapa Mining het kuikens van Ushaka Marineworld in Durban in hul vliegtuig en SA Airlink het kuikens vanaf Pretoria in spesiaal geboude bokse na Kimberley gevlieg.

“By hul aankoms in Kimberley is hulle geweeg, gemeet en gering. Die swaarste kuiken het 1,4 kg geweeg. Die gemiddelde gewig was 900 g. Die vlerkspan was tussen 100 en 240 mm. Laasgenoemde is die sterkste kuikens omdat hulle al primêre vere het en byna kan vlieg.”

Al die data is elektronies vasgelê. Hulle moet nou in kampe in ’n kwarantyngebied by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kimberley akklimatiseer en sterker word.

Volgens Bolhuis verskil die kleinflaminkies in ouderdom, gewig en grootte en het nie almal dieselfde dieet gehad nie.

Hy sê kundiges moes die voëls individueel beoordeel om te verseker dat hulle gereed is om teruggeplaas te word.

Dr. Katja Koeppel en dr Donovan Smith, albei veeartse, kyk na ’n geskikte plek op Kamfersdam waar die kuikens wat met die hand grootgemaak is, by die wilde flaminkkuikens vrygelaat kan word. Foto: Charné Kemp

Koeppel en dr. Donovan Smith, plaaslike veearts, het ook by Kamfersdam gaan kyk na geskikte plekke om die kuikens vry te laat. Koeppel het op die oewer ’n strand aan die oostekant gevind waar verskillende groepe wilde kuikens saam met volwassenes op die pan gestaan het.

Volgens Smith is hulle dringend op soek na geld en borge, want die verskuiwing verg geld.

“Die geld wat voorheen deur ander organisasies soos Birldlife ingesamel is, het nie na die projek in Kimberley gevloei nie.

“Die geld word benodig vir enige voëls wat behandel moet word. Ons het teenspoed met die kamp by die DBV gehad. Reën, ’n haelstorm en wind het die net wat ’n dak moet vorm, vernietig. Dit moet voltooi word voordat die volgende groepe kuikens volgende week kom. Die kuikens wat op die dam vrygelaat is, moet dag en nag gemonitor word en sal in die kamp gevoer en gewoond gemaak word aan water.”

Die kuikens moet in groot voertuie van die DBV na die dam vervoer word.

“Dit verg alles geld, mense se tyd en so meer. Skenkings kan aan Saam Staan Kimberley gemaak word.”

Die kleinflaminkkuikens, wat vroeër vanjaar gered is toe die Kamfersdam feitlik sonder water was, is op pad terug na die dam waar hulle uitgebroei het.Foto: Verskaf
Die kleinflaminkkuikens wat die private ondersoeker, Mike Bolhuis, onder sy vlerk geneem het, is nou reg om na Kimberley se Kamfersdam teruggestuur te word. Foto: VERSKAF
Noudat die private ondersoeker Mike Bolhuis sy kleinflamink-reddingsprojek tot die einde toe deurgesien het, is hy reg om weer vuur en vlam ernstige misdaad in Suid-Afrika te takel. Hier is hy by van die flaminkies nadat hulle gered is. Foto: Verskaf

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Flaminke  |  Kamfersdam  |  Flaminkkuikens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.