Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Flink optrede teen kommandowurm verwelkom

Die departement van landbou, bosbou en visserye (DA/FF) se “tydige optrede” om plaagdoders teen die herfskommandowurm beskikbaar te stel, is deur Agri SA verwelkom in ’n poging om te keer dat dié plaag versprei.

Dit volg op ’n verklaring verlede week waarin kundiges aandui dat die kommandowurm weer oor Suid-Afrika heen sal versprei, met die moontlike uitsondering van die Wes-Kaap.

Die herfskommandowurm sal na verwagting weer oor Suid-Afrika heen kan versprei en ’n gevaar van skade aan veral mielieoeste inhou. Dié indringerspesie is reeds in Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap aangemeld nadat dit verlede jaar die eerste keer in Suid-Afrika verskyn het. Foto: Verskaf

Besmetting deur dié wurm, wat veral mielieoeste kan beskadig, is reeds in vyf distrikte in Limpopo, dele van Mpumalanga en in die Oos-Kaap aangemeld.

DAFF het versoek dat boere en landbou-organisasies hul pogings om dit te monitor en die aanmelding daarvan verskerp omdat die plaag landwyd kan versprei.

Daaglikse en weeklikse verslae moet aan die departement voorgelê word vir alle nuwe gevalle waar die herfskommandowurm voorkom.

’n Herfskommandowurm wat vreet aan ’n blaar op ’n plaas in Limpopo. Foto ter illustrasie.Foto: Verskaf

Dan Kriek, president van Agri SA, het Woensdag dié optrede van DAFF verwelkom, asook dat plaagdoders aan boere beskikbaar gestel word.

“Hoewel hierdie wurm meestal mielieplante aanval, kom dit ook soms voor in katoen, koring, sorghum, sojabone, aartappels en grondbone. Om dié rede is dit belangrik om te let op skade aan hierdie gewasse en die teenwoordigheid van die indringerspesie.”

Agri SA het ook daarop gewys dat boere chemikalieë “in konsultasie met die betrokke verteenwoordigers” moet aanwend.

Verlede jaar het die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda) oor groot dele van suidelike Afrika versprei en tot ’n groot oesverlies in Malawi, Namibië, Zambië en Zimbabwe gelei.Dit is hoofsaaklik in Limpopo, Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap opgemerk. Enkele dele van die Noord-Kaap het ook die wurm aangemeld.

Dan Kriek, president van Agri SA.Foto: Sarel van der Walt

Dit is in Februarie 2017 deur DAFF bevestig dat dié ruspe wel in Suid-Afrika opgemerk is, nadat eers gewag is vir die ruspes om motte te word sodat dit positief uitgeken kon word.

Die wurm is van die tropiese gebiede in Sentraal- en Suid-Amerika afkomstig en is ’n ernstige plaag in die mielieplantasies in lande soos Brasilië.

In 2016 is dit die eerste keer in Wes- en Sentraal-Afrika aangemeld en in Desember is skade in Zambië en Zimbabwe ook aangemeld.

Die mot van die herfskommandowurm vlieg met die heersende wind en kan groot afstande aflê. Die ruspe het ’n kort lewensiklus en kan groot skade aan die blare en mieliestronk aanrig.

Meer oor:  Departement Van Landbou  |  Bosbou En Visserye  |  Dan Kriek  |  Mpumalanga  |  Limpopo  |  Oos-Kaap  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.