Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Fluitjieblaser sê hy wag op Sasol-valbyl

Ian Erasmus, ’n voormalige proseskontroleur by ’n Sasol-aanleg in Secunda, was Donderdag terug by die werk – ingedruk in die hoek van ’n kantoor.

Ian Erasmus

Hy het Woensdag ernstige aantygings teen Sasol voor die Menseregtekommissie (MRK) gemaak oor beweerde omgewingsoortredings wat by die aanleg in Secunda begaan word.

Erasmus het getuig Sasol se werknemers stort vermoedelik gevaarlike chemikalieë in die opvangsgebied van die Vaalrivier.

Hy het getuig die klep van ’n stortingsdam waarin vanadium en kaliumkarbonaat by die Benfield-afdeling van die Secunda-aanleg gestort word, is in die verlede gereeld oopgemaak.

Die waterstelsel by Benfield is veronderstel om ’n geslote stelsel te wees en die chemikalieë wat daarin beland, moet na ’n gesertifiseerde stortingsterrein gebring word.

Erasmus was voorheen proseskontroleur by die Benfield-aanleg. Hy is later weggeskuif en weet nie of die beweerde besoedeling voortgaan nie.

Hy het Donderdag soos gewoonlik by die kantoor opgedaag.

“Ek sit nou hier op ’n rak en wag om afgedank te word.”

Hy was baie gespanne toe hy getuig het, maar Donderdag het hy “verlig” gevoel.

Al die deure – van Sasol se regsafdeling en etiekkomitee, van sy lynbestuurder en van die Groen Skerpioene – het in sy gesig toegeklap toe hy sy kommer oor die beweerde stortings aan hulle oorgedra het, sê hy.

“Ek kla al van 2015 af.”

Ek sit nou hier op ’n rak en wag om afgedank te word.

Hy is van alle pligte onthef en na die “hoek van ’n kantoor” in ’n ander afdeling van Sasol Secunda geskuif.

Hy het elke e-posboodskap en waarskuwingsbrief wat aan hom gerig is, gehou.

“Ek is geboelie, gestamp en gedreig en daar is vir my gesê ek moet net my werk doen. Dit is presies wat ek gedoen het.”

Erasmus sê die intimidasie is baie subtiel en die isolasie vind stelselmatig plaas.

Sasol het hom eers in die hoek van ’n kantoor gedruk en toe sy Sasol-e-postoegang afgeskakel.

“Hulle wag net dat ek iets verkeerd doen, maar ek loop ’n reguit pad.”

Hy vermoed die einde van sy loopbaan het waarskynlik nou aangebreek.

Die geweldige spanning van die afgelope drie jaar beïnvloed ook sy huwelik.

“Maar ek het gedoen wat reg is, wat in Sasol se etiese gedragskode staan: dat jy moet uitpraat oor beweerde oortredings.

“My lewe is seker nou al byna verby. My kinders s’n lê nog voor. Ons geslag het ’n verantwoordelikheid teenoor toekomstige geslagte. Ons kan mos nie ’n vernietigde, gevaarlike wêreld vir ons kinders nalaat nie.”

Maar ek het gedoen wat reg is, wat in Sasol se etiese gedragskode staan: dat jy moet uitpraat oor beweerde oortredings.

Erasmus het voor die MRK getuig hy het sy “huiswerk deeglik gedoen”.

Hy het nagelees oor die gevolge van die twee giftige chemikalieë en vasgestel dit kan ongebore babas se dood veroorsaak en visse doodmaak.

Hy is bekommerd oor die kinders wat hy gereeld in die sytakke van die Vaalrivier sien swem en die predikante wat hul lidmate met die rivierwater doop.

Alex Anderson, Sasol-woordvoerder, het Donderdag gesê hulle ontken “ten sterkste” dat die Vaalrivier of enige ander waterbron opsetlik besoedel word.

Sasol ontken ook dat die sogenaamde besoedeling steeds voortgaan.

Anderson het oor die beweerde intimidasie van Erasmus gesê Sasol beskerm fluitjieblasers.

Die MRK het Sasol wel “onkant betrap” en hulle was onbewus daarvan dat die verhore Dinsdag hervat sou word.

Dit wat aan die MRK voorgelê is, is feitelik verkeerd, sê Anderson.

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Sasol  |  Vaalrivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.