Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Forelbedryf vrees skade
Jonina Fourie neem deel aan die vlieghengelkompetisie vir vroue in Belfast, Mpumalanga. Foto: Theana Breugem

Voorgestelde wetgewing om die forelbedryf in Suid-Afrika strenger te reguleer het forelboere die josie in, maar omgewingskenners sê dié vis rig te veel skade aan.

Die departement van landbou, bosbou en visserye het op 23 Februarie ’n konsepbeleid vir akwakultuur in die Staatskoerant gepubliseer.

Dit behels dat enigeen wat forel vir kommersiële doeleindes wil aanhou of betrokke is by die verwerking van die vis, eers ’n lisensie daarvoor moet kry.

Telers sal ook afsonderlike permitte moet kry om forel te teel, dit te verwerk en aan ander boere te verskaf. Boere moet ’n permit hê vir elke perseel waar dié aktiwiteite plaasvind.

Gerrie van der Merwe, hoof van Trout SA, sê die wetgewing sal skadelik wees vir die bedryf.

“Beleggings volg geleentheid, nie druk nie. Dit sal die bedryf se groei beperk en beleggersvertroue skaad, aangesien die konstitusionele reg tot ’n sakeonderneming met ’n lisensie vervang sal word.”

Volgens Eric Johnson, ontwikkelaar van die toeristebestemming Verlorenkloof in Mpumalanga, is die forelbedryf ’n gevestigde toerismebedryf wat derduisende werkgeleenthede skep en miljarde rande die land inbring.

Tim Brewer, eienaar van die forelplaas Katrinasrust buite Machadodorp, Mpumalanga, sê die wetgewing sal dit amper onmoontlik maak vir nuwe boere om die mark te betree.

“Daar sal te veel burokrasie en struikelblokke wees vir hulle om volhoubaar te kan boer. Dit sal ook ’n administratiewe nagmerrie wees omdat jy vir verskeie dokumente moet aansoek doen.”

Annelize Crosby van AgriSA sê die beleidsdokument is kommerwekkend vir landbou in die algemeen. “Daar is nie werklik ’n verskil tussen ’n vis en ander landboukommoditeite nie. As die regering forelboerdery met die uitreik van lisensies kan reguleer, kan hulle dit deur die bank in die bedryf toepas.”

Maar Palesa Mokomele, departementele woordvoerder, sê dié regulasies is nodig ten einde die volhoubaarheid van die bedryf te verseker.

Gerhard Diedericks, ’n akwatiese spesialis van Witrivier in Mpumalanga, sê om forelle in ons riviere te gooi is soos om “gedurig tiere in die Krugerwildtuin los te laat”.

“Dit het ’n geweldige impak op riviere se ekostelsel omdat etlike visspesies nie meer op sekere plekke voorkom nie,” sê hy.

Hy sê dit kan op die lange duur ’n impak op die gehalte van riviere hê.

Volgens hom kan inheemse spesies in plaas van forel vir kunsvlieghengel gebruik word.

Diedericks sê sommige boere besoedel riviere wanneer hulle hul foreldamme skoonmaak en dié water in riviere pomp.

Rapport het in 2014 berig die departement van omgewingsake hersien wetgewing om forel as ’n uitheemse spesie te klassifiseer en tot sekere gebiede te beperk. Dié wet moet nog geïmplementeer word, maar partye kibbel oor waar in Suid-Afrika forel voorkom.

“Daar is ooreengekom dat die regering nie forel uit gebiede sal verwyder waar hulle reeds floreer nie. Maar partye sukkel al langer as ’n jaar net om ’n kaart te teken van waar forel voorkom,” sê Ilan Lax, nasio­nale voorsitter van die vereniging van Suid-Afrikaanse vlieghengelaars.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.