Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
FOTO’S: Kyk Sylvester en Angel se skattige welpies

Hy het as rondloperleeu die verbeelding aangegryp, maar nou stap Sylvester nét agter sy welpies aan.

Sylvester die leeu se twee leeuwelpies stap haastig en vinnig agter hul leeu-ma, Angel, aan op die Kuzuko Lodge-wildreservaat.

Die leeumannetjie wat opslae gemaak het toe hy soos ’n wafferse Houdini twee keer uit die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes ontsnap het, spog met twee welpies saam met sy leeuwyfie, Angel, in die Oos-Kaap.

Vir langer as twee maande het bestuurders van die Kuzuko Lodge-wildreservaat, wat deel vorm van die groter Addo-Olifantpark, vermoed Sylvester het pa geword, maar dit was eers die afgelope Maandag dat Angel dit met die twee welpies in die oopte gewaag het.

“Angel het al die tekens getoon van welpies wat aan haar suig, maar as leeus hou hulle die welpies vir ’n lang tyd versteek – ons kon hulle glad nie voorheen sien nie,” sê Gerhard de Lange, reservaatbestuurder.

Hy sê die welpies word ongeveer 12 weke oud geskat.

Sylvester en Angel se sprokiesverhaal was egter nie sonder drama nie en albei was al baie naby aan die dood.

Met van die land se beste spoorsnyers en veldwagters op Sylvester se spoor, het hy in 2016 370 km ver op vrye voet gestap nadat hy uit die Karoo Nasionale Park geglip het. In dié tydperk het hy meer as 20 skape, ’n koedoe en ’n bees op nabygeleë plase verslind.

Angel die leeuwyfie staan paraat en beskermend voor haar en Sylvester die leeumannetjie se twee welpies.

Nadat Sylvester vir ’n tweede keer in sy rondloperspore gestuit is, was sy toekoms onseker terwyl daar gewik en weeg is om ’n finale einde aan sy jeukerige pote te bring.

Oplaas is daar besluit om hom ’n tweede kans te gun toe hy in 2016 by Kuzuko hervestig is.

Sylvester het kort ná sy aankoms ’n jonger leeu, Fielies, in sy kamp verwelkom en binne ’n kort tydperk hegte bande gesmee om ’n mannetjieleeukoalisie te vorm, voordat hulle in Januarie 2017 op die 15 000 ha-reservaat vrygelaat is om koning te kraai.

Angel die leeuwyfie, lei haar twee welpies terug in die digte bosse, waar sy hulle vir bykans 12 weke lank weggesteek het.

Angel het op haar beurt ook baie media-aandag geniet, toe sy en haar leeususter, Nicka, in Desember 2014 op die ouderdom van slegs drie maande wees gelaat is toe hul ma in die Addo-Olifantpark skielik dood is. Nadat ’n volskaalse soektog na die weeswelpies afgelas is en daar aanvaar is dat hulle dood is, het hulle in Januarie 2015, doodhonger en uitgeput hul verskyning langs ’n pad in die park gemaak.

As welpies is die twee leeususters in ’n gebied van 300 ha in Kuzuko geplaas, waar hulle deur De Lange geleer jag is, sonder dat hy ooit aan een van die twee leeus geraak het.

Die vier leeus het in Januarie 2017 vir die eerste keer, sonder enige heinings tussen hulle, mekaar van nader op die reservaat leer ken. Hoewel die verhoudings tussen die leeus aanvanklik stram was, het dit net ’n paar maande geneem voordat Sylvester en Angel gepaar het.

De Lange sê Sylvester besoek gereeld sy welpies en hy kan bevestig die welpies het Sylvester as hul pa-figuur aangeneem.

“Ons is dus seker dat Sylvester en sy koalisievennoot (Fielies) hulle die beskerming sal bied wat hulle benodig.”

De Lange het bygevoeg Sylvester hou nooit op om hom te verbaas nie.

“Sedert ek die eerste keer van hom gehoor het, terwyl hy deur die Karoo gejaag is en chaos gedurende sy tyd buite die beskermde wildreservaat veroorsaak het, tot vandag toe waar hy heeltemal by Kuzuko geïntegreer is. Hy is ’n bewys dat bewaring, wanneer dit reg gedoen word, altyd die beste opsie is.”

Die leeuwyfies is albei op voorbehoedmiddels, maar tog het Angel twee welpies verwelkom. Alle oë sal nou op Nicka en Fielies wees, wat ook moontlik hul welpies nog in die digte bosse versteek.

In Maart vanjaar is Sylvester en Angel verskeie keer gesien waar hulle paar.
Die leeumannetjiekoalisie, Sylvester en Fielies, op Kuzuko Lodge-wildreservaat in die Oos-Kaap.
Een van die eerste foto’s wat van Sylvester in 2016 geneem is toe hy by sy nuwe tuiste in die Kuzuko Lodge-wildreservaat wakker word. Foto: Argief

Meer oor:  Karoo Nasionale Park  |  Addo-Olifantpark  |  Sylvester  |  Angel  |  Beaufort-Wes  |  Leeus  |  Rondloperleeu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.