Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
FOTO'S: Vloedwater sorg vir groot drama in Pretoria
’n Man wat in die Centurion-hotel deur vloedwater vasgekeer was, word deur ’n reddingswerker in ’n Oryx-helikopter na veiligheid gebring. Foto: Deaan Vivier

Verskeie reddingsoperasies is Maandag in die noorde van Gauteng uitgevoer toe swaar reën en oorstromings groot ontwrigting veroorsaak het.

Reddingsoperasies in Centurion

Twee van die lugmag se helikopters het Maandag gehelp om mense uit die Centurion-hotel te verwyder. Foto: Deaan Vivier

In Centurion, waar die Hennopsrivier sy walle oorstroom het, is 45 mense Maandag in veiligheid gebring nadat hulle deur vloedwater vasgekeer is.

By die Centurion Hotel is twee helikopters van die Suid-Afrikaanse Lugmag ontplooi om gaste en personeel weg te neem. 35 mense was daar vasgekeer.

Peter Scheelke, een van die reddingswerkers van Bergklub- soek-en-redding wat deur die lugmag gevra is om te help, sê die mense is die een ná die ander van ’n stoep van die hotel gered en na ’n sportterrein daar naby gebring.

“Sommige van die mense was opgewonde en ander was baie bang. Die oomblik toe hulle op droë grond was, kon ek die glimlagte op hul gesigte sien. Dit het alles so vinnig gebeur,” sê Scheelke.

Oorstromings in ander dele

centurion, oorstroming
Meubels word uitgedra nadat die Little Seeds-kleuterskool langs die Hennopsrivier in Centurion oorstroom het.Foto: Deaan Vivier
Ursula MacPherson staan op die trappie van haar stoep. Water het opgestoot tot op die stoepe van huise in die Willow Brook Eco Estate langs die Hennopsrivier. MacPherson sê dit is nie ongewoon dat die Hennopsrivier sy walle oorstroom nie, maar dit is vanjaar erger as vorige jare. Foto: Deaan Vivier
’n Voertuig is gestrand in Blackwoodstraat in Centurion waar die Hennopsrivier sy walle oorstroom het. Foto: Deaan Vivier

Ná dié reddingsoperasie is een van die lugmag se helikopters, waarin Scheelke gewerk het, na Mamelodi waar honderde onwettige plakkershutte in die pad van vloedwater was.

Brümilda Swartbooi berig die plakkershuise van sowat 80 gesinne is verwoes.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê 185 inwoners het op die dak van hul sinkhuise op hulp gewag.

Scheelke sê hy moes self een man daar help wat in sterk vloedwater aan ’n ysterpaal vasgeklou het.

Karen Meyer, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste, het Maandag gesê die oorstromings kan nog nie as ’n ramp beskou word nie.

“Ons reddingspanne bly op ’n gereedheidsgrondslag en ons meen nog ons het die situasie onder beheer. Al die noodoproepe wat ons sover gekry het, is beantwoord.”

Oorstromings het ook in ander dele van Pretoria, asook Tembisa en Bronkhorstspruit voorgekom.

Talle paaie en brûe was onbegaanbaar.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, sê daar is Maandag geen oorstromings in dié metropool aangemeld nie.

Meubels word uitgedra nadat die Little Seeds-kleuterskool oorstroom het. Foto: Deaan Vivier

Sover een dood weens vloede

Sover bekend is net een mens sedert Sondag weens die oorstromings dood.

Luidens ’n verklaring deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is ’n voertuig Sondagaand op ’n laagwaterbrug naby die Hartbeespoortdam in Noordwes deur vloedwater meegesleur.

“Die man kon glo die ruit van die voertuig stukkend slaan en sy vrou kon daardeur ontsnap,” lui die verklaring.

Die man kon egter nie self uit die voertuig kom nie en duikers het later op sy lyk afgekom.

Minstens twee damme vol weens reën

Die swaar reën van die afgelope week het daartoe gelei dat die sluise van die Roodeplaatdam buite Pretoria Sondag oopgemaak moes word. Maandag het die Bronkhorstspruitdam oorgeloop.

Die departement van water en sanitasie het Maandag in ’n verklaring gewaarsku dat ’n paar damme se sluise dalk oopgemaak sal moet word. Dit laat laagliggende gebiede kwesbaar vir oorstromings.

Dalende damvlakke in die land se noordelike provinsies was die laaste tyd ’n bron van kommer vir die departement.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê in dié stadium is dit moeilik om te bepaal hoe die onlangse reën damvlakke raak omdat dit ’n tydjie neem voordat die water by die damme uitkom.

Die departement sal Dinsdag nuwe inligting oor die vlak van damme bywerk.

’n Voertuig is gestrand in die vloedwater in Blackwoodstraat in Centurion. Foto: Deaan Vivier

Reën bring verligting vir boere

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA, goeie reën is die afgelope week in Suid-Afrika se noordelike provinsies aangemeld.

Hy sê weens droogtetoestande die afgelope paar jaar dra boere swaar aan skuld en daarom vra Agri SA steeds die regering om boere met droogtehulp by te staan.

“Ons hoop die goeie reën van die afgelope paar dae word omgesit in ’n goeie oes,” sê Van der Rheede.

Dalk nog oorstromings aan die kom

Intussen lyk dit of Gautengers, wat die laaste paar dae aanhoudende reënweer trotseer, nog ’n bietjie sal moet wag om die son te sien.

Jan Vermeulen, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê oorstromings sal dalk nog Dinsdag in Gauteng, Limpopo, in die noordooste van die Vrystaat en die noorde van KwaZulu-Natal voorkom.

Die reënweer sal glo deur die loop van Woensdag ooswaarts beweeg.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens het teen Maandagaand nog nie reënvalsyfers vir die dag gehad nie.

Meer oor:  Gauteng  |  Oorstromings  |  Swaar Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.