Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Geblikte leeus: Beraad doen niks

Dit is jammer dat die geblikteleeubedryf nie deur die Verenigde Nasies se konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) in die kiem gesmoor is nie.

So het Audrey Delsink, direkteur van die Humane Society International (HSI) in Afrika, Woensdag op die laaste dag van die beraad oor Cites gesê.

“Ons is geweldig teleurgesteld dat pogings om die geblikteleeubedryf te stop nie op Cites se beraad geslaag het nie.”

Die bedryf waar leeus in gevangenskap geteel word, vorm “ ’n bose kringloop van uitbuiting, van die leeuwelpie se geboorte tot en met sy dood wanneer sy beendere na Asië uitgevoer word, waar dit as bestand-deel in tradisionele medisyne gebruik word.”

Sy wys daarop dat leeuwelpies van net ’n paar dae oud van hul ma gesteel word, dan deel word van ’n bedryf waar mense met hulle kan speel en sodra hulle groter is, word hulle óf na ’n slagpale gestuur óf deur ’n trofeejagter doodgeskiet.

“Dié leeus word dwarsdeur hul lewe uitgebuit.”

Delsink verwelkom Cites se besluit om ’n grootkat-taakspan te vorm om die onwettige handel in leeu- en tierbeendere te ondersoek.

Sy voeg by dat so ’n span wel nie veel aan die lot van duisende leeus wat in Suid-Afrika in gevangenskap aangehou word, sal verander nie.

“Ons het nie nog navorsing nodig om die wreedheid van die geblikteleeubedryf te ondersoek nie. Dit is ’n gruwelike bedryf wat blootgelê én gestop moet word.”

* Volgens Delsink het afgevaardigdes van Togo en Niger hul kommer oor dié bedryf in Suid-Afrika aan die Cites-sekretariaat uitgespreek. Cites het die taakspan saamgestel onder meer omdat leeubevolkings in al vier Suider-Afrikaanse lande waar hulle voorkom die laaste paar jaar met tot 60% geval het.

* Die leeubevolking van Wes-Afrika word as kritiek bedreig beskou. Habitatverlies (weens die uitbreiding van stede en dorpe, asook vir landbou), ’n vermindering in prooidiere, konflik tussen mens en wild, trofeejag en die handel in hul beendere is as faktore uitgewys wat leeubevolkings bedreig. Will Travers, uitvoerende hoof en stigter van die bewaringsorganisasie Born Free, het gister ’n emosionele pleidooi gelewer in ’n video wat op Twitter geplaas is waarin hy ’n beroep op die burgerlike gemeenskap doen om nie selfies saam met wilde diere te neem nie.

Hy sê selfies met wilde diere kom neer op die uitbuiting van wild. “Gebruik al jul sosialemediaplatforms om jul vriende en familie te vra om geen selfies met wilde diere te neem nie,” vra hy.

Meer oor:  Cites  |  Bewaring  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.