Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Geblikte leeus: ‘Boere moet gemorsspul self opruim’

Suid-Afrika het nou die geleentheid om ’n einde aan die geblikte-leeubedryf te maak.

Die bedryf is 24 jaar lank toegelaat om “uit sy nate te bars” en die gemorsspul moet nou opgeruim­ word, het dr. Paul Funston, senior direkteur van Panthera, ’n internasionale organisasie wat hom vir die bewaring van groot katte beywer, gister gesê.

Hy sê die leeuboere sal self die opruimingswerk moet doen. Hulle het sakke vol geld gemaak deur wilde diere uit te buit, met hulle te teel en hulle in hokke aan te hou.

Die mensdom het duisende jare­ gelede reeds beeste, bokke en skape mak gemaak en as vee aangehou om in sy behoeftes te voorsien.

Leeus is nie vee nie. Niemand eet ’n leeu nie.

“Ons het hulle dus nie nodig vir kos nie. Geen nasionale park wil geteelde leeus hê nie omdat hul DNS verdag is. Hulle het dus geen bewaringswaarde nie,” sê hy.

“Ons hoop en vertrou die boere sal op ’n menslike manier van die sowat 12 000 leeus in gevangenskap ontslae raak.”

Panthera is deel van ’n groot koalisie van bewaringsorganisasies en voer al dekades lank druk op die Suid-Afrikaanse regering uit om die bedryf stop te sit.

“Barbara Creecy (minister van omgewingsake, bosbou en visserye) was die eerste wat die moed gehad het om dié stap te doen.”

Creecy het dit onder meer duidelik gestel Suid-Afrika moet ’n nuwe toekoms vir sy wild skep.

Funston meen die leeuboere gaan waarskynlik planne maak om hof toe te gaan om hul bedryf aan die gang te probeer hou.

Lede van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), wat ook ’n lid van die koalisie is, meen die diere sal van kant gemaak moet word. Dit klink wreed, maar die wrede omstandighede waarin hulle tans leef, oortref die feit dat massas diere doodgemaak sal moet word, meen die NDBV.

Ander bewaringsorganisasies meen hulle sal in ’n veilige hawe hervestig moet word.

Geweldige uitdagings lê voor. “Dit is ’n skrikwekkende kwessie,” sê Funston.

Die skade wat die bedryf aan Suid-Afrika se beeld aanrig, is geweldig groot, sê hy.

“Suid-Afrika kan dit nie langer bekostig nie.

“So lank as wat die regering boere toelaat om leeus in gevangenskap te teel en aan te hou, hulle te laat doodskiet en hul beendere aan die Ooste te verkoop, is ek skaam om myself ’n Suid-Afrikaner te noem.”

André Mentz, bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging (Sapa), het gister gesê dié organisasie bestudeer nog die verslag en sal later ’n verklaring uitreik oor “die pad vorentoe”.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Geblikte Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.