Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Geblikte leeus: ‘Skop Van Coller uit raad’

’n Koalisie van 35 bewaringsorganisasies vra die Tourism Business Council of South Africa (TBCSA) om Dries van Coller, president van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa), uit sy raad te verwyder omdat Phasa glo die jag van geblikte leeus voorstaan.

Van Coller is ’n nie-uitvoerende direkteur.

Die koalisie van bewaringsorganisasies, wat na hulself verwys as die Coali­tion to Stop Captive Breeding and Keeping of Lions and Other Big Cats for Commercial Purposes, skryf in die brief dit is bemoedigend dat die TBCSA die gefragmenteerde toerismebedryf nou onder een sambreel gekry het.

Die koalisie meen Van Coller­ se direkteurskap en sy noue band met Phasa is problematies omdat verantwoordelike toeriste-organisasies wegbeweeg van “mens-en-dierinteraksie” en die uitbuiting van wilde diere.

Die koalisie sê volgens navorsing is byna die helfte van die plekke waar leeus in aanhouding geteel word direk aan toerisme verbind.

Die koalisie meen die leeubedryf is ’n klad op Suid-Afrika se naam as toeristebestemming en waarsku voornemende verantwoordelike toeriste kan moontlik die land vermy. Suid-Afrika kan dan na raming R54 miljard aan inkomste verloor.

Phasa ontken van sy lede is­ betrokke by die jag van halfmak leeus. Van sy lede­ jag wel leeus en die diere word geteel, maar hulle word vir ’n lang tyd in groot gebiede aangehou en “word wild” voordat hulle gejag word.

Die koalisie sê dit is juis omdat leeus in gevangenskap geteel en later gejag word dat Phasa in 2017 geskeur het. Die wegbrekers het intussen ’n organisasie, Custodians of Professional Hunting and Conserva­tion South Africa, gestig. “Die wegbrekers was bekommerd oor Phasa se gebrek aan etiek,” skryf die koalisie­ aan die TBCSA.

Phasa is ook in dié tyd uit die International Council for Game and Wildlife Conservation (CIC) geskop en sy lidmaatskap van die Namibiese Professionele Jagvereniging is ook opgehef.

Sommige Phasa-lede is volgens die koalisie ook lede van die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging (Sapa­), waartoe die telers van halfmak leeus behoort.

Van Coller sê hy het niks om weg te steek nie en hy het die ondersteuning van sy kollegas en die groter wildlewebedryf. “Ek het geen misdaadgeskiedenis nie en het nog nooit ’n misdaad gepleeg nie, en tog word ek deur ’n groep radikales veroordeel. Weens hul veroordeling het ek al haat-e-pos ontvang, asook doodsdreigemente teen my en my familie.”

Hy het regte soos enige ander burger. “My sienings, oortuigings en handelinge is nog nooit bevraagteken nie en ek het nog altyd met integriteit opgetree. Die TBCSA is nie ’n staatsinstelling nie. Dit is ’n private inisiatief wat daarop ingestel is om die Suid-Afrikaanse Toerismebedryf te bevorder. Die jagbedryf speel daarin ’n rol.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.